Redelinghuys broers werk hard en droom groot
Michael en Rassie Redelinghuys is besig om opgang te maak in verskeie sportsoorte. Die twee jongmanne gaan dit nog ver bring. Lees meer.
VAALPARK. – Talentvol, doelgerig en gedetermineerd is maar van die woorde waarmee Michael en Rassie Redelinghuys beskryf kan word.
Die broers het hul talent vir sport van hul pa, Michael geërf.

Rassie pak hierdie jaar graad 6 aan by Vaalpark Primêr waar hy ywerig deelneem aan spiesgooi, hoogspring, krieket en rugby.
Hy het in 2022 die Vaaldriehoek vertoonwoordig by die SA Klub Atletiekkampioenskappe in hoogspring en spiesgooi. Dan het hy nou begin met tennis ook.
Alhoewel hy goed vaar in atletiek, is rugby sy hart se punt. Verlede jaar het hy vir die o.11’s as haker uitgedraf en hierdie jaar is hy reeds gekies vir die skool se o.13 Toerspan.
Hy en sy broer het deur die loop van die Desembervakansie hard gewerk en geoefen. Ongelukkig het hy skeef getrap tydens ‘n Air Shot spel en sy een voet se ligamente beseer.
Rassie laat hom egter nie afsit deur die moonboot wat hy tydelik moet dra nie en oefen steeds.
Hy droom daarvan om oor twee jaar Transvalia toe te gaan en weer soos verlede jaar saam met sy broer die provinsie by SA’s te verteenwoordig.
Michael betree hierdie jaar ‘n nuwe avontuur as graad 8 leerling by die Hoërskool Transvalia. Hierdie jongman skitter in hoogspring en het ook sy merk verlede jaar in landloopkringe gemaak.
Hy het al nie-amptelik 1,7m gespring en sy naam pryk gereeld onder die medaljewenners.
In 2022 het hy ook die Vaaldriehoek by die SA Klubkampioenskappe in hoogspring en landloop verteenwoordig en is ‘n trotse lid van die Transvalia Atletiekklub.
Michael sê op laerskool het hy eers alle sportsoorte probeer van rugby tot by tennis, maar dit was eers nadat hy hoospgring probeer het, wat hy sy merk begin maak het.
In 2020 het hy deur die grendelstaattyd geoefen onder leiding van sy pa wat self op sy dag ‘n hoogspringkampioen was.
Nou is hy gedetermineerd om teen die einde van die jaar 1.8m of selfs 1.85m te spring.
Naas sy atletiek geniet hy dit om saam met sy broer, playstation te speel en op skool is Natuur Wetenskap sy gunsteling vak. Hy droom daarvan om eendag ‘n robot ingenieur te word.
“God het my ‘n talent gegee. Ek sê vir hom dankie deur hard te werk om my talent te ontwikkel,” verklaar hy ernstig en Rassie knik instemmend.
Harde werk en geloof maak van die twee ‘n gedugte span wat dit nog ver sal bring in hul onderskeie sportloopbane.
Die Redelinghuys broers se grootse bewonderaar is hul kleinsus Elri. Die is nou vyf jaar oud en is hierdie jaar in Graad 0 by Vaalpark Primêr.
Sy reken sy gaan nog eendag tennis en hokkie speel en aan verspring deelneem. Tot dan hou sy van alles wat pienk is en staan sy haar pa se biokinetika pasiënte in sy praktyk by.
