Local newsNewsNews

Ek sê maar net…

RUBRIEK. - Lees meer oor die eienaardige verskynsel wat verlede week in die straat opgemerk is... ‘n Regte-egte vullisverwyderingstrok! Dan is ek en Ma ook (alweer) slaags met ‘n boom.

RUBRIEK. – Dit was ‘n opwindende week in Vanderbijlpark. Wel, in ons area om presies te wees.

Die munispale vuilgoedtrok het sy verskyning gemaak. Regtig! Dit was die eerste keer sedert êrens in Desember.

Mens, was ons bly! Dis nou nie asof almal van ons R5 of R10 per sak ekstra kan betaal aan ‘n privaat persoon om sakke weg te ry nie. Die munisipale rekening sluk reeds soveel geld per maand.

Weet nou nie wanneer ons hierdie wonderbare verskynsel weer gaan sien nie, maar daar is altyd hoop vir ‘n weersiens in die toekoms. Wel, dalk nou nie die afsienbare toekoms nie, maar darem…

Met die beurtkrag saam het ons area ook ‘n verdere wonderwerk beleef. Hulle het geheel vergeet om ons krag Vrydagaand van 16:00 – 20:00 af te sit.

Ons was dankbaar, veral na die vorige week se 16 ure sonder krag fiasko.

Vrydag het beslis vir sy kwota opwin­ding gesorg. Vroegoggend is Ma vuur en vlam op ‘n missie.

Die bure se een indringer boom, hulle het verskeie, is besig om stadig maar seker sy weg in een van ons bome in te wurm. Ma kan dit nie verduur dat die boom so verdring word nie.

Terwyl ek nog na my koffie staar, ek is nie ‘n oggendmens nie, hoor ek hoe leen sy by die buurvrou, sonder die indringerplante, ‘n snoeiskêr.

Dié is blykbaar te swaar en kort voor lank hoor ek buurvrou moet kom kyk na die arme boom.

Ek hou my eenkant. Op ‘n stadium dag ek dis tyd om in beweging te kom. Was net in die kombuis toe hoor ek Ma se “Gerdaaaa!”, dat die kranse antwoord gee. Wel, okay, hier is nie kranse nie, maar as hier was sou hul antwoord gee.

Ek trippel kaalvoet en in my pajamas na buite. Ma is vlak voor die agterdeur onder een van die bome.

In haar een hand het sy, ‘n baie ou snoeiskêr, in die ander klem sy ‘n hark vas wat in die boom se takke gehak is.

“Kom hou hier vas en trek die tak af,” deel sy opdragte uit. Daar staat ek toe kaalvoet in die halfvoltooide bedding en hang aan ‘n hark.

“Ma, daai snoeiskêr is te dun vir die tak,” lug ek my mening.

“Ek het al dikker takke as dit met hom afgesny,” en sy knip-knip onverstoord voort. Nogals met haar seer artritis hand.

Bokant hoor ek hoe die tak begin skeur. “Ma, die ding gaan breek en dan is ons albei vandag dood,” teken ek amptelik beswaar aan.

Ma hoor weer niks. “Trek harder, ek moet daai tak ook bykom,” is al wat sy sê.

Ek voer die opdrag uit en hoor hoe skeur nog ‘n stukkie êrens bokant my kop af.

Intussen bid ek geen van die woonstelbewoners kry ‘n bevlieging om wasgoed te gaan ophang nie.

Hul wasgoedlyne kyk direk op ons erf en ek staan in my pajamas met ongekamde hare.

Uiteindelik laat sak Ma die snoeiskêr. “Jy kan maar los,” sê sy en kyk dan vol verwagting na die tak wat veronderstel is om weer na bo te wip.

“Oh, die tak het daar bo amper afgeskeur,” deel sy my mee asof ek nie nou al hoe lank daaroor staan en mor nie.

“Ek sal maar vir Oupa moet bel,” sug sy. Oupa is nie familie nie. Dis sy naam en hy snoei en sny bome al vir jare by ons.

Ek baan my weg na binne. Dis veiliger.

Ek het al gesien hoe hang ek soos oorle Absalom van die Bybel in die takke steeds met ‘n ou hark in my hande vasgeklem.  Dink net wat se storie dit in die Vaalweekblad sou wees. Sela!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button