Local newsNewsNews

Olga wolf oorwin katgriep

Olga, 'n vier maande oue, Timber wolf het haar bewonderaars op Facebook baie benoud gehad toe sy in die hospitaal beland het. Lees meer.

VANDERBIJLPARK. – Odin en Olga, die jongste wolwe in die Bras-Nel-wolfpak, het ‘n groot aanhang op Facebook.

Die afgelope week het hul aanhangers met skok verneem dat klein Olga (vier maande) met katgriep in die dierehospitaal in Sasolburg opgeneem is.

Joop Bras-Nel en Olga op pad huis toe.

Dit was ‘n paar naelskou dae met besorgde boodskappe en gebede wat van oral opgegaan het.

Uiteindelik het die goeie nuus Vrydag, 13 Januarie gebreek – Olga eet, sy kan huis toe gaan.

Dr. Letitia Swartz van die Sasolburg Veearts Dierehospitaal het laat weet dat hulle op ‘n stadium bekommerd was oor Olgatjie se geestestoestand.

“Wolwe is sielsdiere. Anders as die ander diere wat ons hier versorg, kyk die wolwe ons altyd in die oë. Dis asof hulle in jou siel wil kyk om seker te maak hulle kan jou vertrou. Olgatjie is baie skugter, maar liefdevol,” het sy gesê.

Akita en Olga nadat Olga ontslaan is. Akita en Olga het ‘n baie hegte band.

Alhoewel Olda se mensema, Belinda Bras-Nel haar daagliks kom besoek het, het Olga regtig depressief begin raak.

“Wolwe is kudde diere en Olga moes noodwendig in ‘n isolasiekamer gehou word om te keer dat sy nie ander diere aansteek nie.

“Wel, Donderdagoggend moes Odin inkom vir sy gereelde ondersoek en dis toe wat ek besluit het, dalk help dit as Olga vir Odin sien,” vertel Letitia.

Sy sê sy het nog nooit so iets beleef nie. Met Odin aan die anderkant van die glasdeur, het dit gelyk asof die twee wolwe met mekaar kommunikeer.

Dieselfde aand het Olga begin eet en die volgende oggend was sy gesond genoeg om huis toe te gaan. “Dit was ‘n 180° draai,” het sy verlig vertel.

Belinda sê sy het nie dadelik agtergekom Olga is siek nie. Donderdag, 6 Januarie het sy Olga by die veearts gehad vir ‘n minder ernstige heupprobleem.

“Olga is baie skugter en probeer steeds onder ons bed inkruip. Odin kry nie eens meer sy kop daaronder in nie,” het Belinda vertel.

Odin en Olga voor Olga siek geword het.

Die veearts het ander kos voorgeskryf en die volgende twee dae het Olga nie eintlik geëet nie. “Dis normaal. Wolwe hou nie van verandering nie. Ek het my nie eintlik daaraan gesteur nie.”

Toe Olga egter kwaai begin opgooi en diarree kry, het hulle Letitia Sondag, 8 Januarie gekontak en is Olga met ‘n positiewe toets vir katgriep in die hospitaal opgeneem.

Belinda sê: “Ek het geweet Olga is in goeie hande en gelukkig kon ek haar elke dag besoek.

“Ek het egter teen Woensdag bekommerd begin raak omdat Olga baie depressief voorgekom het. Ek sal Letitia dankbaar bly vir haar goeie idee dat Odin en Olga mekaar Donderdag kon sien. Dis net wat Olga nodig gehad het.”

Belinda het ook haar dank uitgespreek teenoor al die personeel van die dierehospitaal wat al die diere met soveel omgee en respek hanteer.

“Ek het baie eerbied vir mense wat soveel jare studeer en dan met soveel omgee diere behandel. Wat sal ons sonder hulle maak?”

Om die veeartsrekening te help betaal, word daar ‘n spesiale 2023 kalender met besondere foto’s van die wolwe verkoop teen R200 per kalender. Kontak gerus vir Belinda op WhatsApp by 82 929 8938 vir bestellings.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button