Vullisverwydering in Emfuleni drasties afgeskaal
Vullisverwydering in die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) is drasties afgeskaal nadat daar in Desember op ʼn groot aantal van die munisipaliteit se voertuie beslag gelê is en diensverskaffers nie betaal is nie.
Mediaverklaring uitgereik deur: Gerda Senekal, VF Plus-raadslid: Emfuleni-plaaslike munisipaliteit:
Die beslagleggingsbevel is die nagevolg van Emfuleni wat nie sy agterstallige Eskomrekening betaal het nie.
Indien daar nie dringend ʼn afbetalingooreenkoms met die nasionale energieverskaffer aangegaan word nie, sal die voertuie en ander roerende bates vandag (Vrydag, 20 Januarie 2023) op ʼn veiling verkoop word.
Emfuleni moes reeds in die verlede vullisverwyderingsdienste afskaal weens ʼn tekort aan voertuie.
Dit veroorsaak ʼn rotplaag en mense wat onwettig vullis langs paaie stort.
Die VF Plus het die waarnemende munisipale bestuurder, April Ntuli, gemaan dat indien daar nie ʼn werkbare ooreenkoms met Eskom aangegaan word nie, die munisipaliteit maar sy deure kan sluit.
Ander diensverskaffers gaan spoedig Eskom se voorbeeld volg indien die wanbetalingsprobleem voortduur.
Emfuleni is ʼn sprekende voorbeeld van hoe die ANC inwoners van Gauteng gefaal het.
Inwoners moet met die bekendstelling van die jaarlikse konsepbegroting hul stem laat hoor en kapsie maak teen buitensporige tariefverhogings vir dienste wat nie gelewer word nie.
Emfuleni verdien beter as die ANC
