Local newsNews

Diep dankbaar oor hulp uit baie wêrelddele

Annelize, 'n haarkapster en ma van twee tieners, is verlede jaar met kompressie van die rugwerwels gediagnoseer. Sy het 'n dringende operasie ondergaan maar die wonde het septies geraak en sy het by die dood omgedraai. Die gesin bedank almal wat hulle in dié donker tyd bygestaan het

MEYERTON. – Vier maande nadat Annelize Potgieter (39) ‘n uiters noodsaaklike rugoperasie moes kry, septisemie opgedoen het en deur verskeie mediese krisisse moes gaan, is sy nou terug by die huis, al lê daar nog ‘n lang pad na volkome herstel voor.

Annelize, ‘n haarkapster en ma van twee tieners, is verlede jaar met kompressie van die rugwerwels gediagnoseer. Daar is gevrees dat dit tot lewenslange verlamming kon lei as sy nie vinnig geopereer word nie. Aangesien die gesin nie ‘n mediese fonds het nie, het sy op 14 September verlede jaar by die Thelle Mogoerane-streekshospitaal in Boksburg ‘n laminektomie ondergaan – ‘n chirurgiese prosedure wat uitgevoer word om druk op die rugmurg te verlig.
Alles het goed gegaan totdat sy ‘n bakteriële infeksie ontwikkel het en die bakterië weerstandig teen die antibiotika geraak het. Dit het tot septisemie gelei en haar lewe was in die weegskaal. Op 22 November is daar weer geopereer om die geïnfekteerde weefsel te verwyder, waarna die wond en omliggende vel intensief by die Cormed Private Hospitaal in Vanderbijlpark behandel is.

Haar mediese uitgawes het vinnig opgeloop en lede van haar familie het ‘n fonds gestig om geld te help insamel.
Vandag kan Annelize nie uitgepraat raak oor die groot ondersteuning en baie gebede wat die afgelope maande uit verskeie dele van die wêreld ingestroom het nie. Buiten vir bydraes uit die Vaaldriehoek het donasies onder andere ook ook uit Alberton, Edenvale, Rustenburg, Kaapstad, Australië, en Frankryk ingekom.

“Ek wil vandag vir elke liewe persoon sê niks het ongesiens verbygegaan nie,” sê Annelize. “Buiten vir die gebede en finansiële bydraes het mense ook gehelp met die voorsiening vir die ryery heen-en-weer na dokters en hospitale toe, my medikasie, reëlings om my by Cormed in te kry, en algemene fondsinsamelingsprojekte wat vir my geloods is. Daar was baie trane gestort en party dae was bitter as ons slegte nuus gekry het, maar ons Vader, geloof, hoop, liefde en almal se gebede het my deurgedra.”

Hoewel die wonde aan haar rug nog effens dreineer, is dit al baie kleiner en die dreineringsbuise kon al verwyder word.
Sy het ‘n spesiale woord van dank aan Cormed Hospitaal, suster Annelie, drs. Woltge, Lategan en Bezuidenhoud, Lelani van dr. Woltge se spreekkamers, Johannes wat gereeld haar bloed trek, en elke lid van die verpleegpersoneel.

“God gebruik julle as instrumente en ons is so dankbaar vir mense soos julle. ‘n Baie spesiale dankie ook aan my man en kinders wat so geduldig na my omsien, en aan my moeders Alida Lottering en Heleen van Zyl wat beslis medaljes verdien,” sê sy.

Annelize se ma, mev. Lottering, bedank in besonder vir mev. Retha van Reenen, wat saam met haar gesin ‘n worsbroodjieprojek ten bate van Annelize geloods en op haar eie R8 000 ingesamel het. “Meyerton se gemeenskap het agter Annelize gestaan soos wat mens nie kan glo nie,” sê mev. Lottering.
Annelize het nog sowat R40 000 se mediese onkoste om af te betaal. Verskeie projekte is deur ondersteuners in die lewe geroep om geld daarvoor in te samel. Een daarvan is ‘n wedstryd waarin ‘n naweekwegbreek by Soetdorings-vakansieplaas gewen kan word. Mense wat lootjiekaartjies teen R100 elk wil koop, kan mev. Lottering kontak by 082 811 5301.

 

Annelize tydens haar behandeling in die hospitaal.

 

Mev. Annelize Potgieter en haar man, Jaco, voordat sy siek geword het.

 

 WAARSKUWING: Die foto’s van hoe Annelize se wonde gelyk het terwyl dit septies was en hoe dit tans lyk, kan sensitiewe lesers ontstel. Moenie verder afrol as jy ontstel word deur sulke grafiese materiaal nie.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Op die foto links kan die wonde aan Annelize se rug gesien word terwyl dit nog septies was. Die foto regs toon dat die wonde al baie kleiner is en byna toegegroei het. Daar is steeds effense dreinering en Vaalweekblad hou saam met haar duimvas dat dit ten volle gaan genees.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button