Local newsNews

Hoofsweep sê: Midvaal kry nie meer of minder beurtkrag as ander gebiede nie

Midvaal-hoofsweep gee die redes waarom dit dalk LYK of Midvaal meer beurtkrag kry

Deur Phil C. Pretorius, Raadsheer en Hoofsweep, Midvaal Munisipaliteit

Min was my verbasing toe die redakteur van die Sowetan onlangs op CNN verskyn om te rapporteer oor beurtkrag. In die agtergrond het hulle beeldmateriaal van die Johannesburgse naglewe met hoë geboue, torings en liggies… en dan is daar niks, donker. Die aanbieder skrik so groot dat sy die onderhoud stop en vra om terug te gaan na die beeldmateriaal.
Intussen (back at the ranch) sit ons onderling en stry oor wie kry die meeste of minste beurtkrag op hierdie plaas. Behoede die broer of suster wie se stukkie sjokolade groter is as myne.

Op sosiale media klap die tonge oudergewoonte sonder asemteug. Van persone wat nie weet wanneer die beurtkrag moet wees nie tot rugryers wat dit in elke moontlike spesiale formaat vir hulself afgelewer wil hê. Word die krag nou ‘n minuut te vroeg afgesit of minute te laat aangesit word politieke partye, raadslede en burgemeesters gevloek dat die Atlantiese Oseaan hulle nie kan skoonwas nie. Die geëikte verreikende stellings (sweeping statements) word gebruik soos: “NIEMAND kry soveel beurtkrag soos Midvaal nie”, “Die DA het nog net mooi NIKS aan die beurtkrag gedoen nie” en “VIER URE? Ek sal NOOIT WEER vir hulle stem nie.”

Ek het so paar kennisse van regoor Suid-Afrika gevra om hulle beurtkragskedules aan te stuur en het dit met Midvaal vergelyk. Dit wil voorkom asof Midvaal heel standaard daar uitsien. Geen noemenswaardige minder of meer ure is op Midvaal se skedule as enige ander munisipaliteit wat ek ondersoek het nie. So, die gerugmeul dat Midvaal DA is en dus swaarder gestraf word is nie waar nie. Maar let wel, ek het gesê: “wat op die skedule is”. Dit beteken nie dat wat op die skedule is op die grond gaan plaasvind nie. Maar hoekom nie?

Ek begin toe rondskakel om uit te vind wat die ondervindings is in hierdie verskeie areas, veral by ons nabye bure waar betalings aan Eskom nie so gereeld plaasvind nie. Dit vertel ‘n heel ander storie. Die eerste probleem wat alle munisipaliteite ondervind is dat die infrastruktuur nie die konstante aan- en afsit kan hanteer nie. Soos jou verdeelbord by die huis se tripskakelaar ook nie te veel aan en af geskakel wil word nie, geld dit vir die groter skakelaars met meer kragtoevoer ook. Dan trip die verdere skakelaars op pale wanneer die krag weer aangesit word en nie al hierdie probleme is as gevolg van nalatige onderhoud nie. Ons verdeelborde by die huis trip ook maar gereeld wanneer beurtkrag verby is, dan moet inwoners soms kop onderstebo agterkom hulle het verniet gekla, die fout lê toe in hulle eie woning.

Die volgende probleem wat my bronne identifiseer is dat ‘n munisipaliteit wat nie geld het nie, ook nie voertuie en brandstof het om die personeel by die substasies te kry om dit aan en af te sit nie. Dit gaan gepaard met oortyd betalingsprobleme, geen toesig en gebrekkige kommunikasie. Daar is glo so min elektrisiteit in sommige dele dat personeel se fone nie gelaai kan word om in die veld bereik te word nie.

Wanneer skedules dus verander of probleme ondervind word, kan hulle nie bereik word nie. ‘n Raadslid verduidelik aan my dat sy self van hierdie personeel moet gaan haal met haar privaatvoertuig om die skakelaar te kom aansit en dan weer die persoon huis toe neem om middernag. Gedurende die rit verduidelik die personeellid hoe daar net een voertuig is wat daardie hele munisipaliteit se beurtkrag moet aan- en afsit en dat dit onmoontlik is om dit betyds af en dan weer aan te sit. In sommige gevalle word dit aangesit net om agter te kom dat die kabels gesteel is, wat beteken dat die inwonders dan met ‘n sewe dae “verpligte beurtkrag” sit.

Ons moet ook in ag neem dat dit verskil van waar areas onder ‘n munisipaliteit se kragtoevoer val van dié wat onder Eskom direk val.
Daar is ook gebiede wat op waterpompstasies en hospitaallyne lê en kwytgeskel is van beurtkrag. Hoe Eskom dit bepaal en hoekom sekere instansies kwalifiseer en ander nie, kan niemand antwoord nie.

Daar is dus ‘n paar feite wat duidelik is en wat ons in ag moet neem in die beurtkragsage. Eskom bepaal die skedule, nie Midvaal of Emfuleni of Lesedi of die DA nie. Midvaal en die burgemeester en die DA kan op en af spring tot die koeie huis toe kom, Eskom gaan nie hulle skedules aanpas omdat iemand op sosiale media daaroor tekere gegaan het nie. Midvaal kry nie meer of minder beurtkrag op hulle skedules as ander munisipaliteite nie. Midvaal is wel baie meer akkuraat met hulle aan en afskakel asook die onderhoud van hulle infrastruktuur.

Ongelukkig blyk Midvaal en haar inwoners in hierdie geval so effens die slagoffer van hul eie sukses te wees. Midvaal het voertuie en brandstof en personeel en oorsig en onderhoud om die beurtkrag te implimenteer. Ten minste weet ons dat wanneer ons die krag moet aansit, is daar infrastruktuur oor om aangesit te word.
Midvaalgroete, Phil.

Web: www.midvaal.gov.za
Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network
Tel: 0861 643 8225
MyMidvaal App

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button