Hier word ‘n passie vir natuurbewaring gekweek
Lees meer oor die Vaaldriehoek se Junior Ereveldwagters. Die groep is in 2022 gestig en sê hulle het altyd plek vir nog jong bewaringsentoesiaste.
VANDERBIJLPARK. – Die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke) se ereveldwagters is welbekend vir hul vrywillige werk dwarsoor Suid-Afrika. Ook in die Vaaldriehoek staan die Ereveldwagters sterk.
In 2022 is daar ook ‘n Junior Ereveldwagtersgroep in die Vaal gestig.
Ina Vorster, self ‘n lid van die Ereveldwagters met ‘n groot passie vir natuurbewaring, het die groep begin, met die bystand van die Vaaldriehoekstreek SANParke-Ereveldwagters onder leiding van Andries Mans.
“Ons het in Maart 2022 die groot stap geneem en met 20 leerlinge die nuwe avontuur aangevat,” het Ina gesê.
“Deur die Junior Ereveldwagtersgroep wil ons graag ‘n liefde vir die natuur en natuurbewaring kweek by die volgende generasie.”
Ina het eers ‘n fasiliteerderskursus gedoen, alvorens die Vaaldriehoek Junior Ereveldwagters gevorm kon word.
Leerlinge van 12 tot 18 jaar word geakkommodeer en daar is vyf fases waardeur elke Junior Ereveldwagter gaan.
Aan die einde van elke jaar word ‘n fase geslaag en kan daar na die volgende fase aanbeweeg word.
Die Junior Ereveldwagters het hul eerste jaar baie geniet. In Oktober 2022 het hul die Kruger Nasionale Park besoek en onder andere van naderby kennis gemaak met die park se K9-eenheid.

Hulle kon ook die renosterwesies besoek en het ‘n beter begrip gekry van hoekom daar so baie klem gelê word op die bewaring van renosters.
Dan was daar twee uitstappies na Kommandonek en die Vredfortkoepel. ‘n Hoogtepunt was ook die kampnaweek waarmee die jaar afgeskop is.
As deel van hul gemeenskapsprojekte het hul onder andere spekboompies gekweek wat by die SANParke-Ereveldwagters se gholfdag verkoop is.
Die fondse wat hul daar gekry het, het hul aan die SANParke se honde-eenheid geskenk.
Vaaldriehoek se Junior Ereveldwagters het ook verlede jaar boeke ingesamel vir die veldwagters se biblioteek in die Marakele Nasionale Park.

Ina sê dit was goed om te sien hoe die jongspan se kennis en entoesiasme vir natuurbewaring deur die jaar toegeneem het.
Hierdie jaar kom die Junior Ereveldwagters weer een maal per maand bymekaar by Hoërskool Sasolburg op Saterdae van 09:00 tot 12:00.
Alhoewel elke lid ‘n lidmaatskapfooi betaal vir die jaar is dit slegs genoeg om vir die amptelike pet en T-hemp te betaal.
Verder is die Junior Ereveldwagters afhanklik van donasies om hul opvoedkundige uitstappies en ook werk in natuurbewaring voort te sit.
Hulle benodig ook dringend hul eie bussie sodat hul makliker by die plekke kan uitkom. Aangesien hul ‘n Section 18A organisasie is, kan enige donasies teen belasting afgetrek word.
Om lid van SANParke se Junior Ereveldwagters te word, kontak gerus vir Ina by inavorster11@gmail.com.
Meer inligting oor SANParke Ereveldwagters, asook kontakbesonderhede vir die onderskeie streke kan gevind word by www.sanparksvolunteers.org.
