Local newsNewsNews

Afsterwe van Hoëveld-perdesorgeenheid se gelukbringer-perd laat ‘n leemte

Die Hoëveld-perdesorgeenheid se gelukbringer-perd, Alfie, is onlangs dood. Die perd het diep sporte in mense se harte getrap.

*Die storie het die in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad op Woensdag 25 Januarie 2023 verskyn.

MEYERTON. – ‘n Inspirerende perd met ‘n legendariese storie wat diep spore in die harte van die mense wat hom geken het, getrap het.

Dit is hoe Alfie die perd deur die span by die Hoëveld-perdesorgeenheid (Highveld Horse Care Unit) onthou sal word.

Die trekperd, wat in 2018 uit haglike omstandighede gered is en toe sy lewe op ‘n merkwaardige wyse omgekeer het, is op 21 Januarie dood nadat hy koliek ontwikkel het.

“Dit is met groot hartseer dat ons ons geliefde gelukbringer, Alfie, moet groet. Hy was die eenheid se hart en liefde en was die assistentbestuurder, Johan (Strydom) se beste vriend,” lees ‘n plasing wat die perdesorgeenheid die naweek op hul amptelike Facebook-blad geplaas het.

Alfie. Foto: Verskaf/Chrizelda Carelse

Ashley Ness, hoofinspekteur by die Hoëveld-perdesorgeenheid, vertel dat Alfie (volle naam L’Draftique Eiffel) destyds een van sowat 19 trekperde was wat in 2018 uit haglike omstandighede gered is.

Die perde is deur die vorige eienaar verwaarloos en was maer en uitgeteer toe die Hoëveld-perdesorgeenheid op hulle afgekom en op hulle beslag gelê het.

Ashley vertel dat die groot aantal perde op die vragmotor gelaai is maar dat hulle te min spasie gehad het nog voor Alfie op die voertuig gelaai kon word.

“Die vragmotor was feitlik vol en ons het al begin om perde in die afskorting-spasies te druk sodat hulle vervoer kan word. Daar was een enkele afskorting-spasie beskikbaar, maar dit was baie klein. Johan het na Alfie gekyk en gesê dat as die perd self met die opgang (ramp) tot op die vragmotor kan kom, ons hom in die vragmotor kan laai en saamvat.

“Die perd was baie maer en uitgeteer. Ons het in stilte gestaan en toekyk. Wonder bo wonder het hy dit tot op die vragmotor gemaak en ons het hom saam met ons geneem,” vertel Ashley.

Die perd was volgens Ashley aanvanklik baie menssku, maar nadat Johan ure lank saam met die perd gesit het en hom wortels met die hand gevoer het, kon hy die dier se vertroue wen.

Danksy die liefde en sorg van die perdesorgeenheid het Alfie gou weer perdfris en gesond geword.

Alfie was maer en uitgeteer toe die Hoëveld-perdesorgeenheid hom van sy vorige eienaar gered het. Foto: Verskaf

Skaars ‘n paar maande later is Alfie ingeskryf vir die gesogte Perd van die Jaar-kompetisie wat in Kyalami plaasvind, waar hy met die reserwe kampioen trekperk-titel weggestap het.

Die jaar daarna het Alfie die kampioen trekperk-titel gewen. Die perd het mettertyd die Hoëveld-perdesorgeenheid se gelukbringer geword en diep spore in die harte van personeel getrap.

Alfie sal veras word.

Wanneer die Hoëveld-perdesorgeenheid sy as ontvang, sal ‘n spesiale gedenkdiens vir hom gehou word.

*Die Hoëveld-perdesorgeenheid is een van die grootste organisasies wat na die welstand van perde in Suid-Afrika omsien. Die organisasie raak betrokke wanneer perde verwaarloos word, ondersoek mishandeling en wreedheid en help om nuwe tuistes vir perde en donkies waarop daar beslag gelê word, te vind.

Die organisasie help ook met uitreike, opvoeding van eienaars van perde en om diere te hospitaliseer. Die Hoëveld-perdesorgeenheid kan by 081 598 3842 of op hul noodnommer 082 921 1644 geskakel word. Jy kan ook ‘n e-pos aan info@horsecare.org.za stuur vir meer inligting.

Alfie het diep spore in mense se harte getrap. Foto: Facebook/Highveld Horse Care Unit

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button