Local newsNewsNews

Ek sê maar net…

RUBRIEK. - Beurtkrag, oh die liewe beurtkrag. Tong in die kies beskou ek die gedoente. Lees meer...

‘n Mens sou dink ons het dit al gewoond geraak. Die beurtkrag-ding. Dis egter nie die geval nie. Dit bly ‘n frustrasie.

‘n Ongemaklike inbreuk op jou daaglikse bestaan. Ons betaal vir dienste. Betaal vir elektrisiteit, los ons in vrede! Maar, nee af is die krag.

Daar is ‘n legio van redes wat Eskom elke keer aanvoer. Hul mediaverklarings word al hoe langer, ek lees dit al hoe minder.

Feit is, beurtkrag is hier om te bly. Ons reageer nie dieselfde op die voorspelling van die munisipaliteit se baie ou, beurkragskedule nie.

Vir die wat dalk van buite die Vaaldriehoek lees, ons beurtkrag word in sarsies van vier ure op ‘n slag afgesit, maak nie saak watter fase Eskom aangekondig het nie.

Voorspelling ja! Amper soos die weer, beurtkrag van 08:00 tot 12:00 met ‘n 30% kans van laat aansit en ‘n verdere 20% dat die krag eers die volgende dag sal aankom.

Terme en voorwaardes geld altyd. Dit staan nie daar nie, maar ek dink, hulle dink die volgende staan êrens onderaan die skedule geskryf:

* Laat halfuur toe vir aanskakel, sou die krag nie aankom nie, raas met die admins van al die WhatsApp klagtegroepe waarvan jy lid is.

* Wanneer die krag weens kabeldiefstal, ‘n brand, ‘n ontploffing of ‘n verlore transformator nie aangaan nie, moet onder geen omstandighede terugvoer verwag nie.

* Die elektrisiëns soek die fout, die beheerkamer drink koffie en jy kan mos sien daar is nie krag nie!

* Onthou om die plaaslike koerant, jou wyksraadslid, die admin van die elektriese klagtegroepe en Jan van Riebeeck te blameer omdat jy nie wi-fi het, kos kan maak of ‘n warm bad kan neem nie.

Hoe dit ookal sy. Ek is deel van ‘n WhatsApp-groep waar die admin daagliks die beurtkragvoorspelling vir die volgende dag plaas.

Die 08:00 tot 12:00 is erg, veral op ‘n Maandagoggend. Beteken ek moet vroeër as gewoonlik my sit agter die rekenaar kry om die laaste berigte geskryf te kry voor die krag groet.

Beteken ook dat ek gereeld op ‘n Maandag soos ‘n weerwolf op vakansie lyk, want ek vergeet gewoonlik van hare was en blaas voordat die krag afgaan!

Ons word die 12:00-16:00 gespaar, maar in die omgewing waar my Liewe Vriend tuisgaan, is daardie tydgleuf gereeld hul voorland.

Seker nie die moeilikste tyd nie, wel die warmste. In die hittegolftoestande is dit nogal erg as daar skielik geen waaier aan is nie.

Die bitterste pil om te sluk is natuurlik by verre die 16:00-20:00. Ag ja, ons voorland op Donderdae en Vrydaeaande.

Eers is daar die gejaag om te probeer seker maak daar is aandete gereed voor 16:00. Kleinsus Antjie en kie sal wraggies nie tot na 20:00 wag voor hul eet nie!

Ligte en selfone word heeldag gelaai. Die kerse staan gereed. Van 15:00 af begin mens al sommer so in die lug in pleit.

“Asb. moet tog nie laat hul die krag afsit nie? Kan die ou nie maar vergeet nie? Kan hy nie sy skoonma uitvat vir ete nie?”

Soms kruip 16:00 nader en verby met die krag nog aan. Dan sit mens versigtig die televisie aan en maak gou-gou nog koffie.

Ander kere sak die lang donker stilte al voor die aangewese uur neer.

Gewoond raak aan beurtkrag sal ons seker nie. Maar, dat dit vinnig besig is om met die weer te kompeteer as algemene gesprekspunt is baie waar.

Dink net bietjie, hoeveel gesprekke (hetsy oor die foon, in persoon of op WhatsApp) het jy gehoor begin met: “Het julle nou beurtkrag? “Ag, ons het al weer beurtkrag.”

“Jy sal dit nou nie glo nie, maar my broerskind se suster se dogter-hulle het die afgelope week net 30 minute krag gehad vir die hele week.” Sela!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button