Local newsNewsNews

Sterkte Basjan! Mag die operasie goed afloop.

Wanneer die gemeenskap saamstaan gebeur daar dinge. Na maande van fondsinsamelingsprojekte kan Basjan nou gaan vir die groot operasie. Lees meer...

VANDERBIJLPARK. – Sebastiaan (alombekend as Basjan) Kok word Dinsdag, 31 Januarie opgeneem ter voorbereiding van die groot operasie wat wag op 1 Februarie.

Hy is ‘n student aan die NWU wat in ‘n ernstige motorongeluk betrokke was aan die einde van 2021.

Ten spyte van sy beserings en kolostomiesakkie het hy verlede jaar voortgegaan om vir die universiteit te skitter op die hokkieveld en het hy verskeie hokkiespanne afgerig.

Twee weke gelede het Basjan self die R225 000 merk aangedui. Foto: Nicoleen Harmse

Nadat ‘n staatshospitaal verlede jaar vergeet het om die teater te bespreek om die kolostomie-sakkie te verwyder, het Nicoleen Harmse en haar UBee4forme NPO ingespring om fondse in te samel sodat Basjan na ‘n privaat hospitaal kan gaan.

Hulle moes ten minste R250 000 insamel. In die laaste kwart van 2022 het hul verskeie projekte geloods en ook oral blikkies geplaas om geld in te samel.

Vrydag, 27 Januarie 2023 het die fonds op R240 000 gestaan.

Daar word nog sowat R10 000 benodig om al die operasiekostes te dek en ‘n verdere R50 000 vir al die terapie en nasorg.

Nicoleen en haar span werk reeds aan verdere fondsinsamelingsprojekte. Die eerste hiervan is ‘n aanlyn vendusie wat hul op 4 Maart gaan hou.

Hulle beplan ‘n WhatsApp vendusie waar allerlei interessante kunswerke en bordspeletjies op veiling sal wees.

Dan is daar nog ‘n spesiale damesdag wat in Julie gehou gaan word met die titel: Christmas in July.

Nicoleen het laat weet: “Ek wil dankie sê vir die Here se genade in oorvloed dat Hy ons tot hierdie gebring het. Verder dankie vir ELKE persoon wat gehelp het om hierdie projek so te kon dryf. Mense se harte is groot!”

Vaalweekblad wens Basjan alle sterkte toe met die groot operasie wat voorlê. Ons glo en vertrou alles sal goed gaan en dat hy weer eersdaags op die hokkievelde gesien sal word.

You can read the full story on our App. Download it here.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button