Uit my pen – die week in Vaalweekblad
Onthou om Vaalweekblad elke Woensdag by jou naaste winkel of vulstasie in die Vaaldriehoek te kry.
Vaalweekblad is weer Woensdag, 1 Februarie te koop.
Kan jy glo? Januarie, amptelik die langste maand van die jaar vir menigte salaristrekker, is uiteindelik verby!
Alhoewel dit lyk asof die petrolprys alweer styg en beurtkrag nog hardnekkig klou, is die prys van Vaalweekblad steeds net R6.80.
In die week se koerant is daar heelwat te lees oor die Vaal se top matrikulante van 2022 en dan is daar die blokraai, fotoblad en heelwat nuus.
Maar, ek het nie ‘n pen op papier gehad vir enige van bogenoemde nie, dus kan ek nie uitbrei nie.
Self het ek ‘n draai gaan maak by Laerskool Parksig in Vanderbijlpark se voormalige skoolhoof, Marina Martins.
Sy en haar man het die skoolboeke en boerdery verruil vir eienaarskap van ‘n koffiewinkel. Lees meer oor Marina op bl. 7.
In my rubriek, Ek sê maar net vertel ek hoe ‘n week kan skeefloop en van ‘n uiters onwelkome vierpoot besoeker. Kyk, so het ek lanklaas gegil. Lees meer op bl. 16.
Intussen is die Vaalweekbladspan weer aan’t woeker en werk om volgende week se Vaalweekblad propvol interessanthede en plaaslike gebeurlikhede te kry.
Groetnis van huis tot huis.
