Local newsNewsNews

Ek sê maar net…

RUBRIEK. - Kraak 'n glimlag oor rottewales en kas-kenades.

RUBRIEK. – Dinsdae sak die koerant. Bedrywige tyd. Dinsdae is ook die dag waarop die week se promosie video geskiet word.

Dan is Elsje en die uwe voor die kamera en Ettienne daar agter. Uitdagend, maar groot pret.

Verlede Dinsdagoggend spot my kollegas dat ek die foto waar ek erg moeg en deurmekaar lyk ‘n slag in my rubriek moet gebruik.

My week was soos wat ek hier lyk.

“Ja,” seg ek. “Die volgende keer wat ‘n week geheel op sy kop keer.” Beroemde laaste woorde.

Dieselfde dag kom ek moeg, honger en warm by die huis aan. Stop voor die hek en daar kry ek nie die hek oopgesluit nie. Ma is nie tuis nie.

Ek bel vir Liewe Vriend. “Moet ek kom help?” vra hy. Ek seg: “Nee, wag eers, ek gaan weer probeer.” Vra sommer so in die lug in vir oorle Pa vir hulp.
O

orle Pa luister, want toe ek weer gaan karring, spring die oeroue slot oop.

By die voordeur val ek amper oor die drie pekinese. Haas my om die agterdeur vir hulle oop te maak.

Dit dring tot my deur dat dit te stil is in die huis. Ma los altyd die radio aan, maar ek hoor niks. Ek druk die naaste ligskakelaar, niks. Krag is af.

Gelukkig was dit darem nie vir lank nie. Die hek se binneslot het egter bly probleme gee totdat een van die buurmanne en Ma saamgespan het om dit te vervang.

Later die week gaan kuier ek by een van my beste vriendinne. Ons koffie en kuier al te lekker, totdat ‘n man voor die erf stop en sê hy het die kas gebring.

Agterop sy trokkie is ‘n tamaaie, sware houtkas.

“Jy moes dit môre gebring het,” protesteer sy. “Ek het dit vandag gebring,” sy enigste kommentaar.

Ons skakel haar man, maar die is nog besig met ‘n projek. “Jy sal moet help, Sussa” kyk sy na my kant toe.

Tussen die drie van ons kry ons met groot gesukkel die kas van die trokkie af.

Draai dit eers regop, maar dis te hoog vir die deur. Toe kom operasie draai-die-kas en dra in. Geen maklike taak nie.

In die proses beland ek langs die kas en daar val die kasdeur oop, bo-op my voet. Velle onmiddellik af.

Gelukkig kry die kas sy staan sonder enige verdere beserings. Gaan sit ons weer en trek die koeldrankbottel nader. Kry te warm vir koffie.

So kuier ons rustig verder. Volgende oomblik sien ek ‘n beweging op die trap.

Ek dag eers dis die kat, maar toe gaan staan my hart amper. Dis ‘n rot!

Ek is sprakeloos geskrik. Vriendin besef midde ‘n sin dat iets fout is. Ek kan net beduie.

Mnr Rot het intussen in ‘n kombuiskas verdwyn. Volgende oomblik steek sy kop onderdeur die toe kasdeur. Ons gryp albei na ons selfone.

“Niemand gaan ons glo nie,” sê sy terwyl haar foon aanmekaar klik.

Ons gaan sit weer. “Waar is die katte?” spreek ek my hoop uit dat die jagters hul verskyning sal maak. “Slaap seker,” trek sy skouers op.

Mnr Rot maak weer sy verskyning. Beskou ons met ‘n skeeloog en loop tot by die katte se waterbak.

Drink lustig en gaan eet dan selfs katkos. Ek neem ‘n video en stuur dit vir Vriendin se man. Die opskrif lees: “Help!”.

Hy bel. “Wat is fout?” vra hy rustig. “Daar’s ‘n rot in jou kombuis,” lig ek hom in.

Hy laat hom nie stoor deur my vreeslike nuus nie. Blykbaar is ‘n rot in die kombuis nie genoegsame rede vir hom om alles te los en tot ons redding te kom nie.

“Ag, hy is seker maar net honger,” sy enigste kommentaar nadat ek nie sy voorstel van “skiet die ding” wou aanneem nie.

Ons gaan sit weer. Voete hoog, vir ingeval. Volgende oomblik is rot weer buite die kas en wraggies mik die ding om in ons rigting te hardloop.

Ons gil dat die dak amper lig. Niemand kom tot ons redding nie.

Ek dink die rot het hom boeglam geskrik, want sedertdien is daar geen spoor van die ding nie.

Dit was nou wraggies nie ‘n welkome besoeker nie. Sela!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button