Boogskietkampioen op 11
Baie sterkte aan voormalige Laerskool Emfulenipark leerling, Clarissa Steenekamp. Sy neem volgende week aan 'n internasionale boogskietkampioenskap deel.
VANDERBIJLPARK. – Clarissa Steenekamp was van graad 1 tot graad 4 ‘n leerling van die Laerskool Emfulenipark.
Einde 2021 het die gesin Wes-Kaap toe verhuis, maar Clarissa se hart klop nog sterk vir haar ou klasmaats en skool.

Op 11 is sy ‘n boogskutter van formaat. Haar beste telling is 297/300. Onder leiding van haar afrigters, Jeanine en Frans van Kradenburg bereik sy telkemale die kol.
‘n Merkwaardige prestasie aangesien sy eers in Februarie 2021 begin het met boogskiet.
Die jongeling jag al saam met haar pa vandat sy vyf jaar oud is. Sy het eendag verby ‘n boogskiet oefening gestap en daar en dan besluit sy wil ook probeer.
Nadat sy ‘n oefening bygewoon het, was die ‘boog deur die kerk’ en was sy versot op die sport.
Clarissa het in 2022 haar provinsiale en nasionale kleure in boogskiet verwerf.
Sy is tans deel van die Suid-Afrikaanse Federasie span, aangesien sy eers op 13 kan kwalifiseer vir die Protea span.
Sy sien baie uit na ‘n boogskiettoernooi wat van 13 – 18 Februarie in Gillinghan, Kent in die Verenigde Koninkryk gaan plaasvind.
Sy oefen daagliks vir die groot toernooi in die buiteland deur 120 pyle te skiet.
Haar grootste wens is om ‘n “Robin Hood” te skiet. Dis wanneer ‘n boogskieter ‘n pyl wat reeds geskiet is, met ‘n tweede pyl kan oopkloof.
Clarissa droom daarvan om eendag haar eie boogskietklub te begin en kinders af te rig.
Die Vaal kan met reg trots wees op hierdie boorling van Vanderbijlpark en ons wens haar voorspoed toe vir die 2023 boogskietjaar.
