Rioolbesoedeling: VF Plus gryp in ná HS Vanderbijlpark leerders dreig om skool te verlaat
Die VF Plus het Vrydag (10 Februarie) sakekamers in Vanderbijlpark genader om te help om ʼn geblokte rioolpyp wat langs die Hoërskool Vanderbijlpark verbyloop, oop te blaas nadat leerders gedreig het om die skool te verlaat.

Inwoners rondom die skool is ook warm onder die kraag oor die riool wat kort-kort hul erwe oorstroom.
“Die party vra al sedert 2018 die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit om die riool-hoofpyplyn in Fordstraat te vervang omdat die mangate dikwels oorloop en riool die skoolgrond en rugbyveld invloei,” het VF Plus-raadslid Gerda Senekal in ‘n mediaverklaring gesê.

“Die VF Plus het die munisipaliteit ook Donderdag van die rioolblokkasie ingelig, maar munisipale werkers kan nie daaraan aandag gee nie omdat daar geen voertuie beskikbaar is om dié diens te verrig nie”.
Die VF Plus het daarom geen ander keuse gehad om die sakekamers te vra om in te gryp nie.
“Dit is onaanvaarbaar dat leerders deur riool moet loop om skool by te woon en nie aan sekere sportsoorte kan deelneem nie, omdat die sportgronde ʼn gesondheidsrisiko inhou,” meen rdl. Senekal.
Die VF Plus het die Vanderbijlpark se sakesekor bedank vir hul onbaatsugtige hulp.
“Dit is egter net ʼn tydelike oplossing en die VF Plus sal druk op die munisipaliteit plaas om die rioolpyp so spoedig moontlik te vervang,” sluit rdl. Senekal af.
