Local newsNews

AfriForum gee raad oor munisipale rekeninge en dispuutverklaring

"As jou munisipaliteit swak of ondoeltreffende diens lewer, mag jy nie jou betaling weerhou nie. As die munisipaliteit egter geen diens lewer nie, mag dit ook nie betaling daarvoor van kliënte eis nie."

Foutiewe munisipale rekeninge is deesdae ’n groot probleem vir talle verbruikers. Aangesien ’n munisipale rekening in ’n verbuiker se persoonlike hoedanigheid uitgemaak word, is dit ’n individuele aangeleentheid. AfriForum het nie die mandaat om individuele aangeleenthede te behartig nie, maar kan verbruikers wel hieroor adviseer.

AfriForum gee hierdie raad:
Wetgewing bepaal dat ’n munisipaliteit behoorlike kredietbeheermaatreëls in plek moet stel om die nodige invordering van belastings behoorlik te kan uitvoer. Munisipaliteite moet uiteraard ook op navraag ’n staat aan enige verbruiker kan voorsien waarin die besonderhede van die dispuut/probleem behoorlik geïdentifiseer word. Munisipaliteite moet ook eers ’n finale aanmaning aan die verbruiker stuur alvorens enige diens opgeskort of afgesny mag word.

As jou munisipaliteit swak of ondoeltreffende diens lewer, mag jy nie jou betaling weerhou nie. As die munisipaliteit egter geen diens lewer nie, mag dit ook nie betaling daarvoor van kliënte eis nie. As dit betaling eis vir dienste maar dit nie lewer nie, het verbruikers regres-reg. Hulle mag egter nie die reg in eie hande neem nie. Met verwysing na die wetgewing op Plaaslike regering: Munisipale Stelsels en Eiendomsbelasting, is die terughouding van betalings (Tariewe en Belastings) onwettig en onregverdigbaar.

Dit sal dus raadsaam wees dat jy ’n dispuut gaan verklaar by die munisipaliteit in terme van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels 32 van 2000, artikel 102. Hierdie artikel meld dat geen kredietbeheermaatrëels geïmplementeer mag word solank as wat daar ? formele dispuut verklaar is nie. Daar kan dus ook nie op die eiendom beslag gelê word of regsaksies geneem word alvorens die dispuut hanteer is nie. Menige munisipaliteite het ook op hul onderskeie webtuistes dispuutvorms beskikbaar of e-posadresse waarna dispute gestuur kan word.
Jy kan die dispuut rig aan die munisipale bestuurder of die finansiële hoof (“Chief Financial Officer”) van die betrokke munisipaliteit.

Jy moet seker maak jy vra vir ’n “read receipt” of vra in die e-pos vir erkenning van ontvangs indien jy die dispuut elektronies wil stuur. Indien jy dit per hand by die munisipaliteit inhandig, maak seker jy maak afskrifte en laat een afskrif deur die toepaslike munisipale amptenaar onderteken as bewys dat die dispuut wel ontvang is.

Die dispuut moet op grond van ’n spesifieke probleem op jou rekening verklaar word, byvoorbeeld:
– Die feit dat geen finale aanmaning aan jou verskaf is nie.
– Die besonderhede op die rekening foutief is.
– Uitstaande skuld verkeerd is.
– Bedrae uitermatig hoog is.
– Krag/water onregmatig afgesny is.

Verduidelik jou probleem volledig en heg jou bewyse per nommer by die dispuut aan. Plaas die munisipale bestuurder op terme deur hom geleentheid te gee om binne sewe dae aan jou te verklaar op watter wyse hy hierdie dispuut gaan oplos. Indien jy na sewe dae geen terugvoer ontvang het nie of jy nie tevrede is met die uitkoms van die dispuut nie, kan jy appèl aanteken by jou munisipaliteit. Indien enige kredietbeheermaatreëls wel toegepas word, moet jy die dispuutbrief aan die munisipaliteit toon.

Jy moet toesien dat jy steeds maandeliks jou beraamde verbruikers- en ander heffings betaal ten einde jou in ’n positiewe posisie te plaas indien jou saak vir beslegting na ’n hof verwys sou word. Verbruikers word voorts aangeraai om ’n betroubare prokureur in hul dorp te nader vir verdere advies. Enige regskoste is ongelukkig vir jou persoonlike rekening.

As bykomende ondersteuning kan jy al die dokumentasie aan jou betrokke wyksraadslid stuur. Besoek gerus www.elections.org.za/content/For-voters/who-is-my-ward-councillor-/ of www.da.org.za/our-people/ward-councillors-map/ vir wyksraadslede se kontakbesonderhede.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button