Botsing bevestig vrese oor verkeersgevaar langs skool
'n Passasiersvoertuig het op sy sy gelê nadat die botsing die oggend in Euclidstraat, direk langs die skool, plaasgevind het.
VANDERBIJLPARK. – ‘n Skouspelagtige botsing tussen ‘n minibus-taxi en ‘n passasiersvoertuig langs die Laerskool Frikkie Meyer het op Maandag, 6 Februarie, opnuut vrese oor leerlinge se veiligheid in dié besige gebied beklemtoon.
Die passasiersvoertuig het op sy sy gelê nadat die botsing die oggend in Euclidstraat, direk langs die skool, plaasgevind het. “Dit is net genade dat daar in daardie stadium nie skoolkinders langs die pad geloop het nie, anders was hulle dalk deur een van die voertuie getref,” sê ‘n ontstelde ma. ‘n Vroulike insittende van een van die voertuie is beseer en na ‘n plaaslike hospitaal vervoer.
Die strate rondom die skool dra swaar verkeer, veral soggens en smiddae wanneer kinders by die skool af- en opgelaai moet word. Van die ouers het op die toneel aan Vaalweekblad gesê dat hulle lankal bekommerd is oor hul kinders se veiligheid. Hulle meen dat baie motoriste roekeloos in die strate rondom die skool ry en dat die verkeersafdeling die verkeersvloei strenger moet beheer.
Van die ouers vra dat spoedbordjies sowel as ander verkeerstekens langs die paaie om die skool aangebring moet word om motoriste te waarsku dat hulle naby ‘n skoolterrein is, waar kinders onverwags kan kruis. Hulle versoek ook dat meer skoolhekke oopgemaak moet word waar voertuie kan parkeer terwyl kinders in- of uitklim.
Verskeie inwoners van die strate om die skool kla voorts dat hulle sekere tye van die dag in hul erwe vasgekeer word wanneer voertuie wat kinders aflaai of kom haal, in lang toue in die strate wag en hul opritte blokkeer. Hulle stel voor dat “geen stop”-blokke voor hul opritte geverf word om dié probleem die hoof te bied.
Volgens mnr. Barend Schrap, waarnemende hoof van die Laerskool Frikkie Meyer, is die skool en onderwysdepartement bewus van die verkeersprobleme en dringende aandag word daaraan gegee. Samesprekings met die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, by wie die skool ‘n aangrensende park huur, word ook hierdie week gevoer om oplossings vir die verkeersdruk te help vind.
“Die botsing was ‘n ongelukkige voorval en as skool is ons baie bekommerd oor ons leerders se veiligheid. Ons het die wag-area vir voertuie reeds opgegradeer en nog veiligheidsmaatreëls is ingestel om die verkeersvloei te verbeter, maar ons is steeds besig met verdere dringende ondersoeke,” sê mnr. Schrap.
Die skool het omsendbriewe oor die verkeersituasie na ouers uitgestuur en die algemene gemeenskap word ook versoek om uiters versigtig in die strate rondom die skool te ry, sê hy.


