Bobby en Karlien sing in die Vaal… en jy kan kaartjies wen!
Dit is die eerste keer dat Bobby weer in die publiek gaan optree nadat hy in 2018 weens gesondheidsprobleme moes ophou sing.
Op 10 Maart kry aanhangers van Bobby en Karlien van Jaarsvelds die geleentheid om dié talentvolle broer en suster in lewende lywe by The Bar With No Name in Vaalpark te sien optree.
Vir Bobby se bewonderaars gaan dit ‘n besondere ervaring wees want dit is die eerste keer dat hy weer in die publiek gaan optree nadat hy in 2018 weens gesondheidsprobleme moes ophou sing. Hy het sedert 2016 vier stembandoperasies gehad en daar is in ‘n stadium gevrees dat hy nooit weer sou kon sing nie. Hy het egter goed herstel en wil nou weer agter die mikrofoon inskuif.
Bobby het die afgelope jare naam gemaak as akteur, onder andere in die rolprente “Liefling” en “As jy sing”. Ons het hom in 2018 ook in die kykNET TV-reeks “Mense, Mense” gesien, en verlede jaar in die reeks “Spoorloos: Die Eiland”.
Bobby, sy vrou en hul drie kinders woon deesdae in Ballito in KwaZulu-Natal, van waar hy sy vele sakebelange bestuur, maar op 10 Maart is hy en sy sus Karlien hier in die Vaaldriehoek om hul plaaslike bewonderaars met ‘n onvergeetlike vertoning mee te voer.
Die hekke van The Bar With No Name open op 10 Maart om 17:00 en die vertoning begin om 19:00.
Kaartjies kos R200 per volwassene en R100 vir kinders van 5 tot 12 jaar. Besoek https://qkt.io/BKVJ of stuur ‘n WhatsApp na LAE Events by 065 873 8907 vir meer inligting of om jou plekke te reserveer.
* Neem deel aan Vaalweekblad se weeklikse blokraaisels in ons papierkoerante en staan ‘n kans om gratis dubbelkaartjies vir die vertoning te wen!

