Bielie van ‘n rinkhals ‘stiek uit’ by Rust-ter-Vaal-stadion
'n Bielie van 'n Rinkhals, ongeveer 'n meter lank, het Vrydagmiddag (24 Februarie 2023) kom “gesig wys” by 'n sportstadion in Rust-ter-Vaal.
RUST-TER-VAAL. – Nick van der Walt, gekwalifiseerde slangkenner en hanteerder van Netcare 911 wat gehelp het om die reptiel te vang, sê sekuriteitswagte het die slang ontdek, waarna Nick se hulp ingeroep is.
Rinkhalse en ander slange is glo volop in die gebied.
Die slang is gevang en sal volgens Nick na die omgewing van Suikerbosrand Natuurreservaat geneem word waar die reptiel vrygelaat sal word, vêr weg van mense af.

Nick moes die afgelope paar maande behoorlik bontstaan om slange te probeer vang.
Daar is ook vroeër vandeesweek ‘n rinkhals gevind by ‘n plaaslike laerskool in Vereeniging, wat deur oop velde omring word.
Nick sê bewustheid ten opsigte van slange is mense se beste wapen.
‘n Ernstige slangbyt kan jou gesondheid aantas en in sommige gevalle selfs dodelik wees.

Gelukkig is daar in die Vaaldriehoek net drie hoogs giftige slange; die pofadder (Bitis arietans), die rinkhals (Hemachatus haemachatus) en die nagadder (Causus rhombeatus).
Van hierdie drie slangspesies is die rinkhals by verre die giftigste.
Die rinkhals kom oral in die Vaaldriehoek voor, maar is veral algemeen rondom beboude gebiede langs groot oop velde, soos op kleinhoewes en plaasgebiede.
Die slang eet knaagdiere, akkedisse, voëls en voëleiers, maar is veral lief vir paddas.
Baba-rinkhalse is gewoonlik grys, terwyl volwassenes dikwels ‘n donkerder olyfkleur of swart is.
Die lang se maag is swart en hulle het kenmerkende wit bande om die nek.

Rinkhalse word gemiddeld ongeveer ‘n meter lank. Sommige rinkhalse kan tot 1.5 meter lank wees.
Wanneer die slang bedreig word vorm die reptiel ‘n breë kappie en spoeg die slang gif.
As jy aanhou om die slang te teister, sal die Rinkhals op sy rug rol, sy mond oopmaak en dood speel.
Die gif van hierdie spesie is neurotoksies wat respiratoriese verlamming en dood in ernstige gevalle kan veroorsaak.
Gelukkig is teengif baie doeltreffende wanneer hierdie envenomasies behandel word, en sterftes van hierdie spesie is baie skaars.
Indien jy ‘n slange soos dié teekom en jy het hulp nodig het om die reptiel te verwyder, skakel gerus Netcare911 by 082 911. Die nooddiens beskik oor opgeleide slangvangers soos Nick van der Walt.
*Lees meer oor die slange in die Vaaldriehoek, sowel as raad oor wat jy moet doen as jy deur ‘n slang gepik word in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad.

