Känguru-tehuis stel ‘bababoks’ vir weggooibabas bekend
Kinderverlating is ’n ernstige probleem in Suid-Afrika. ’n Studie wat in 2018 deur die Suid-Afrikaans Mediese Navorsingsraad gedoen is (SAMNR) toon dat ongeveer 3 500 babas jaarliks weggegooi word. Slegs ’n klein persentasie van die kinders wat weggegooi word oorleef.
KLIPRIVIER. – Die Känguru-tehuis vir gestremde kinders in Garthdale, Kliprivier het Vrydag (24 Februarie 2023) ‘n ‘bababoks’ bekend gestel waar mammas wat voel dat hulle nie na hul babas kan omsien nie, die baba op ’n anonieme wyse in die tehuis se sorg kan plaas.
Die ‘bababoks’ – of ‘Baby Saver’ soos dit genoem word – is ’n boks wat in die muur van die Känguru-tehuis in Garthviewstraat 43 ingebou is waar mammas kan gaan om die baba anoniem in die boks te plaas.
Werkers van die Känguru-tehuis vir gestremde kinders neem dan die baba in ontvangs en werk saam met die Impilo- aannemingsagentskap om die kinders na ’n geskikte kinderhuis of pleegsorouers uit te plaas.
Adele Modoo, bestuurder van die Känguru-tehuis vir gestremde kinders, verduidelik: “Sodra die ma die boks oopmaak en die baba in die boks plaas, aktiveer ’n drukplaat aan die onderkant van die boks ’n magneet, wat die deur toe hou sodat dit nie van die buitekant af weer oopgemaak kan word nie.”
“Na ’n minuut en ’n half sal daar ’n alarm aan die binnekant van die Känguru-tehuis vir gestremde kinders afgaan, wat sorgwerkers in kennis stel van die aflewering.”
“Sorgwerkers sal dan uitkom, die baba tot in die babakamer neem en dan al die nodige assesserings oor die baba se toestand doen.”


Volgens Modoo is die binnekant van die bababoks toegerus met ’n kamera wat die baba dophou.
Daar is ook sensors wat die alarm aktiveer om sorgwerkers, wat 24 uur per dag by die Känguru-tehuis vir gestremde kinders aan diens is, in kennis te stel van die aflewering.
Modoo sê die Känguru-tehuis vir gestremde kinders werk saam met Impilo, ‘n aannemingsagentskap, wat binne 24 uur toesig oor die kinders sal neem en die nodige paperwerk sal doen (geboortesertifikate ensovoorts) voordat hulle die baba na ’n geskikte plek uitgeplaas kan word.
“Statisties word ongeveer 3 500 babas elke jaar weggegooi. Van die babas wat weggegooi word, word slegs ongeveer 1/3 van die babas lewendig gevind. Die ander 2/3 sterf dikwels voor hulle gevind kan word,” vertel Modoo.
Volgens Modoo word die babas dikwels in stormdreine, asblikke, op sommelhope, in oop velde aangetref.
“Hierdie ‘bababoks’ bied aan mammas ’n veiliger alternatief,” sê sy.
Sam Boshielo, ‘n stigter en direkteur van die Känguru-tehuis vir gestremde kinders, meen as een baba se lewe met behulp van die ‘bababoks’ gered kan word is dit klaar baie wat bereik word.


