Regering dreig om Emfuleni se toekennings te verminder
Die ANC se wanbestuur van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit is op ʼn spits gedryf met die aankondiging van die nasionale tesourie dat hy oorweeg om die munisipaliteit se oorblywende gedeelte van die 2022/23-finansiële jaar se toekennings met miljoene te verminder.

Gerda Senekal, VF Plus-raadslid: Emfuleni-plaaslike munisipaliteit, het in ‘n mediaverklaring verder bekend gemaak dat die tesourie aangedui het, dat indien die munisipaliteit nie voor die einde van die finansiële jaar (Junie vanjaar) die geld bestee nie, die infrastruktuur-toekenning vanaf R194.2 na R89.7 miljoen verminder sal word.
Die geïntegreerde kragtoekenning sal vanaf R38.1 na R25.4 miljoen verminder word.
“Die VF Plus is nie verbaas oor die aankondiging nie omdat die munisipaliteit in die huidige boekjaar nie die volle nasionale toekenning bestee het nie.
“Intussen verswak die verouderde infrastruktuur verder en inwoners moet gereeld sonder krag en water klaarkom,” sê rdl. Senekal.
Volgens haar verklaring is dele van Vanderbijlpark al vir ses dae sonder krag omdat die infrastruktuur nie onderhou word nie.
Verouderde substasies veroorsaak ook dat krag weens tegniese probleme nie dadelik na beurtkrag aangeskakel kan word nie.
“Indien die ANC-beheerde munisipaliteit oor die politieke wil beskik het om die belange van Emfuleni se inwoners eerste te stel, sou die geld aangewend gewees het om dienslewering te verbeter en kritieke infrastruktuur te onderhou,” sluit rdl. Senekal af.
