Hokkiemaats span saam vir Elskè (17) na skokdiagnose
Elskè het Donderdag 'n volledige histerektomie van haar eierstokke en baarmoeder in die Sebokeng-hospitaal ondergaan.
MEYERTON. – Die sewentienjarige Elskè de Villiers, ‘n matriekleerling en doelwagter van die Hoërskool Dr. Malan se eerstehokkiespan, het eergister (Donderdag, 2 Maart) ‘n ingrypende operasie ondergaan nadat kanker van die eierstokke by haar gediagnoseer is.
Elskè het Donderdag ‘n volledige histerektomie van haar eierstokke en baarmoeder in die Sebokeng-hospitaal ondergaan.
Die gewasse is op 30 Januarie tydens ‘n besoek aan die dokter opgemerk nadat sy die voorafgaande weke van pyn en ‘n geswelde buik begin kla het. Omdat haar ouers nie ‘n mediese fonds het nie, is sy vir verdere behandeling na die Sebokeng-staatshospitaal verwys. Sy kon egter nie gou daar geholpe raak nie en haar spanmaats het dadelik ingespring om geld in te samel sodat sy behandeling by ‘n private mediese instansie kon kry.
“Bloedtoetse, sonars en ‘n CT-skandering is toe gedoen, waarna ‘n ginekoloog die slegte nuus aan haar moes oordra dat sy kanker in albei eierstokke het,” sê haar tannie, mev. Alicia Coetzer, wat namens die De Villiers-gesin met Vaalweekblad gepraat het.
“Sy en haar ouers is aangeraai dat haar eierstokke dringend verwyder en ‘n histerektomie uitgevoer moet word om te verhoed dat die kanker versprei. Die pyn het in die opvolgende dae vererger en sy is op 21 Februarie in die Sebokeng-hospitaal opgeneem, onder andere om vog wat aanhoudend in haar longe opbou, te dreineer. Die operasie sou op 23 Februarie plaasvind, maar weens beurtkrag en ander operasionele probleme by die hospitaal, kon dit nie gedoen word nie.
“Die histerektomie is toe hierdie week uitgevoer. Sy is steeds in die hospitaal en sal vir opvolgbehandeling na ‘n kankerspesialis moet gaan. Haar ouers en ons as familie is nog platgeslaan en wil graag die beste moontlike mediese sorg wat Elskè verder benodig, vir haar kry. Private behandeling is egter baie duur en die bekommernis druk swaar op haar en haar gesin se skouers,” sê Alicia.
Lede van die eerstehokkiespan, hul ouers en ondersteuners uit die gemeenskap het intussen verskeie inisiatiewe op Facebook, WhatsApp en Instagram begin om geld vir Elskè se behandeling in te samel. Die hokkiespelers verkoop kolwyntjies, soetkoekies en spesiale strikkies ten bate van Elskè by hul wedstryde, en ‘n ondersteuningsprojek is ook deur die insamelingsgroep, Hemelse Pêrels, begin.
Nog een van Elskè se ondersteuners, mev. Zonicka van Heerden, het ‘n projek, Elskè Club 100 begin, met die oog daarop om 100 donateurs te kry wat elk R1 000 bydra.
“Ons weet tye is moeilik en almal probeer self kop bo water hou, maar ons wil alles moontlik probeer om die gesin te help om fondse in te samel,” sê Zonicka.
Elskè se familie vra dat almal haar asseblief in hul gebede moet hou. “Die pad is nog baie lank en onseker, maar ons slagspereuk sê: Kanker het met die verkeerde meisie kom sukkel. Ons gaan almal saam met haar veg,” sê haar tannie.
* Donasies van enige bedrag kan per EFT inbetaal word by Rekeningnaam: K4J-Branding, FNB Meyerton, Takkode: 250137, Tjekrekening: 626 172 901 35, Verwysing: Elske.
Navrae kan gerig word aan Cynthia (079 883 6475), of Zonicka (082 909 0929), of Alicia (083 334 4848).



