Eers oorstromings – nou vloei al die water weg!
Die vlak van die Loch en die Vaalrivier duskant die Barrage is sedert die begin van die naweek kommerwekkend laag.
VANDERBIJLPARK. – Oewerbewoners van sekere gebiede langs die Vaaldriehoek se riviere het die afgelope weke vernietigende oorstromings beleef – en nou gebeur die teenoorgestelde…
Die vlak van die Loch en die Vaalrivier duskant die Barrage is sedert die naweek kommerwekkend laag.
Verskeie diensverskaffers bied gasvryheids- en toerismedienste op of langs die water in hierdie gebied aan, maar Vaalweekblad verneem van die plekke moes hul besprekings vir die naweek in geheel kanselleer. Die watervlak is tans eenvoudig te laag vir watersport, of om gaste op vlotte uit te neem of in huisbote te akkommodeer.
Die kansellasies, saam met die groot hoeveelheid voorbereide kos waarvan nou ontslae geraak moet word, veroorsaak verliese van derduisende rand vir sakelui van die omgewing.
Vaalweekblad is in die proses om uit te vind wie se besluit dit was om soveel sluise by die Barrage oop te maak, of waarom dit nie gouer toegemaak is nie. Die betrokke owerhede se woordvoerders kon nog nie gedurende die naweek vir kommentaar bereik word nie, maar ons hoop om Maandag sinvolle antwoorde te kry.

