Emfuleni kry gekwalifiseerde oudit weens wanbestuur
Die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) het ʼn gekwalifiseerde ouditverslag van die ouditeur-generaal (OG) ontvang vir die 2021/22-finansiële jaar.
VF Plus-raadslid Gerda Senekal: Emfuleni-plaaslike munisipaliteit meen dié bevinding kan net aan die ANC se wanbestuur van die munisipaliteit toegeskryf word.
Sy het in ‘n mediaverklaring daarop gewys dat die munisipaliteit se onreëlmatige uitgawes R232 305 800 beloop, verkwiste uitgawes R827 881 210 en ongemagtigde uitgawes beloop R2 708 864 475.
Die verklaring lui verder:
Die oorsake hiervan is ʼn gebrek aan verantwoordbaarheid en swak prestasie in bestuursposte.
Kragverliese in die munisipaliteit beloop 23% of R598 miljoen en waterverliese 63,7% of R733 miljoen van die totale grootmaataankope.
Onwettige krag- en waterverbindings en waterlekkasies dra by tot hierdie verliese.
Die verslag maak dit duidelik dat daar twyfel bestaan aan die munisipaliteit se vermoë om as ʼn lopende saak voort te gaan.
Munisipale geboue is in ʼn vervalle toestand en is nie behoorlik in stand gehou of beveilig om diefstal en vandalisme te voorkom nie.
Geen redelike maatreëls is getref om rioolbesoedeling te voorkom nie.
Die gehalte van die uitvloeisels by die afvalwaterbehandelingsaanlegte voldoen nie aan die voorskrifte van lisensievoorwaardes soos vervat in die Nasionale Waterwet nie.
Toetse om die kwaliteit van die uitvloeisel vas te stel is agt maande gelede uitgevoer, maar geen maatreëls is daarna getref om aan die wetlike voorskrifte te voldoen nie.
Die OG se aanbevelings aan die munisipaliteit is:
- Vakatures moet gevul word;
- Interne beheer moet versterk word;
- Bevindinge en oorsake wat die OG in sy verslag aangedui het, moet aangespreek word;
- Aanbevelings en advies om herhalings te voorkom moet uitgevoer word;
- Maatreëls om prestasie te verseker moet in werking gestel word;
- Risikobestuur-prosesse moet versterk word.
“Die uitkoms van die OG se verslag kom as geen verrassing vir die VF Plus nie. Inwoners ervaar daagliks die wanbestuur van die munisipaliteit. Vullisverwydering geskied sporadies, paaie is verflenter en riool vloei in die strate. Van sigbare dienslewering is daar geen sprake nie,” sê rdl. Senekal.
“Die VF Plus waarsku soos die OG al ʼn geruime tyd dat Emfuleni nie meer as ʼn lopende saak bedryf kan word nie,” het sy afgesluit.
