Vanderbijlpark skrywer pen twee kinderboeke
Felicia Snyman du Toit is 'n Romanza skrywer van formaat. Onlangs het sy ook haar eerste twee kinderboeke vrygestel.
VANDERBIJLPARK. – Twee jaar gelede het Felicia Snyman du Toit, toe reeds ‘n bekende Romanza skry wer, gesê sy wil kinderboeke ook skryf.
Onlangs is haar eerste twee kinder boeke gepubliseer. Die ware avonture van Adelie en Riley: Die swembadmonster en Die ware avonture van Adelie en Riley: Die amadidas is gebaseer op haar eie dogter, Adelie en Boston Terriër Riley se vriendskap.

Felicia het die boeke tydens die Covidinperkingstyd geskryf. Sy het die idee vir die eerste boek gekry toe die hoek van hul swembad gebreek het weens ‘n grondverskuiwing.
Die gesin het na die skade gekyk en gewonder hoe dit gebeur het. Dis toe dat Adelie verklaar het dat dit ‘n monster moes gewees het.
Net daar is die saadjie geplant vir Die Swembadmonster. “Adelie en Riley is soos kettie en klip. Waar die een is, sal jy ook die ander een kry.
“Jy moet hulle sien as hulle buite speel. Riley klim saam met Adelie op die klimraam en gly selfs by die glyplank af,” vertel Felicia.
In die tweede boek is die twee helde in die Amasone waar hul teen die Amadidas baklei.
“Ek het die idee gekry met die hadidas wat so in die tuin kan skree. Hulle maak my gek. Toe skryf ek ‘n boek waar Adelie en Riley die Amadidavoëls oorwin.”
Felicia beskryf die kinderboeke as lekker avontuurverhale gebaseer op die werklikheid met ‘n bietjie fantasie by.
Die boeke is ook besonders omdat daar min avontuurboeke is waar ‘n meisie die heldin is. Dis op beginnerlesers gemik, maar Adelie se 10-jarige maats geniet ook die avonture.
Felicia sê sy het begin om skole te besoek as deel daarvan om die boekreeks te bemark en geniet die tyd saam met die kinders baie.
“Ek was by Laerskool Fonteine in Sasolburg en het Riley saamgevat. Ek het gewonder hoe hy dit gaan hanteer, maar hy het hom soos ‘n wafferse ster gedra. Toegelaat dat al die kinders hom vryf en regtig sy lyf ster gehou,” lag sy.
Vir die leerders was dit natuurlik die grootste pret om een van die sterre in die boek in lewende lywe te ont moet.
“Hulle het dit veral geniet toe ek ‘n stuk vir hul voorlees met Riley op my skoot. “Dit het gelyk asof hy hom totaal inleef in die storie en die kinders was gaande oor hom.”
Die derde boek in die reeks is reeds geskryf en Felicia sê miskien skryf sy eendag ook oor Adelie en Riley se nuwe maats, want so het die gesin intussen gegroei met nog twee Boston Terriërs en ‘n boetie vir Adelie.
“Ek hoop van harte die twee se avonture gee kinders weer lus om te lees. Daar is darem niks lekkerder as om ‘n boek vas te hou en te lees nie,” sê Felicia wat van kleintyd af lief was vir stories en lees.
“Ek wou altyd ‘n skrywer word, maar ek het eers ‘n ander roete inge slaan voordat ek weer by my eerste liefde uitgekom het,” vertel Felicia wat ook voltyds prokureur is.
“Mense vra altyd wanneer kry ek tyd vir skryf, dan vra ek hulle wat dink hulle doen ek tussen 02:00 en 04:00 in die oggend?” lag sy vrolik.
Die Adelie en Riley boeke is aanlyn beskikbaar asook by die meeste boekwinkels.
Intussen het Felicia ook haar jongste Romanza, Liefde met ‘n uitklophou vrygestel en is een van haar kortverhale in ‘n bundel opgeneem.
