Inwoners met hande in hare oor plakkers in bouvallige huis
Plakkers wat nes geskrop het in ‘n bouvallige huis in Vereeniging se middestad dryf glo naburige inwoners van Rhodeslaan teen die mure uit
Volgens Hilton Scott, ’n inwoner van Rhodeslaan, het die probleme begin toe die huis langsaan afgebrand het.
Volgens Scott was dit nie lank voordat plakkers die bouval beset het nie, en nou word maak die nuwe intrekkers naburige inwoners se lewe hel.
“Die reuk van gebrande rubber en plastiek is ondraaglik en die groeiende vullishoop op die erf lok muise, rotte, brommers en kokkerotte,” vertel Scott.
Volgens Scott het hy die probleme reeds by die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit aangemeld en die plaaslike raadslid in kennis gestel in die hoop dat die probleem
aangespreek word.
Scott sê hy wag nog steeds dat daar daadwerklik opgetree word.
Dit is onbekend wie die eienaar van die perseel is.
Vaalweekblad het navrae aan Makhosonke Sangweni, ‘n woordvoerder van Emfuleni, sowel as Prudence Hlanyane, wyksraadslid van Peacehaven se middestad en Leeuhof gerig.
Geen kommentaar of terugvoer is tot dusver ontvang nie.
Volgens ‘n eiendomskenner wat onlangs met Vaalweekblad gesels het oor ‘n afsonderlike, maar soortgelyke situasie elders in die Vaaldriehoek, behoort die munisipale gesondheidsinspekteur ‘n huiseienaar amptelik aan te vat as ‘n eiendom gesondheidsrisiko’s inhou, soos wat skynbaar hier die geval is.
Die munisipaliteit kan ‘n huiseienaar nie dwing om teen sy sin te verkoop nie, maar die eiendom mag wel deur ‘n stadsraad teruggeneem en op veiling verkoop word as dienstegeld en erfbelasting agterstallig is en nie ingevorder kan word nie.
‘n Ander eiendomskenner met wie Vaalweekblad ook onlangs gesels het meen die huiseienaar is verantwoordelik om seker te maak dat sy/haar erf skoon en veilig is, al bly die persoon nie daar nie.
Volgens die eiendomskenner is dit die plig van raadslede om toe te sien dat die eienaar dit doen.




