Berader van beroep, filosoof van geaardheid
Maak nader kennis met voormalige VUT en NWU studentevoorligter en huidige sielkundige en berader, Saneth Dreyer.
VANDERBIJLPARK. – Dr. Saneth Dreyer is al vir jare deel van die lief en leed van die Vaaldriehoek.
Letterlik en figuurlik, want as beradingsielkundige en traumaberader is sy die een wat daar is wanneer mense krisisse beleef.
Altyd vriendelik met ‘n omgee hart. Een wat regtig luister en nie skroom om te help nie.
Saneth is nie net daar vir haar pasiënte nie, maar ook vir haar vriende. ‘n Gebore filosoof waarmee mens vir ure oor die lewe se raaisels kan gesels.

Alhoewel sy nie in die Vaaldriehoek gebore is nie, sê Saneth die “Vaaldriehoek wil my nie los nie.”
Sy is gebore in Bloemfontein en het as pastoriekind grootgeword. Haar vormingsjare het sy in Alberton deurgebring tot die gesin, toe sy in standerd 2 (graad 4) was, na Drie Riviere verhuis het.
Nadat Saneth aan die Hoërskool Drie Riviere gematrikuleer het, het sy haar studies aan die voormalige PU vir CHO voltooi.
Na twee jaar in die Kaap het haar lewenspad weer na die Vaaldriehoek gelei en het sy deel van die personeelkorps van die VUT geword.
“Ek was eers deel van studentevoorligting, maar later jare was ek die personeelberader,” onthou sy.
Sy was ‘n bekende gesig op kampus van 1986 tot 2006. Op daardie stadium het haar man, Nick, afgetree en het die egpaar besluit om in Boknes in die Oos-Kaap te gaan aftree.
“Boknesstrand is ‘n klein plekkie naby Port Alfred. As kind het my ouers ‘n vakansiehuis daar gehad en ons het elke Desember daar vakansie gaan hou.
Hul aftrede het net agt jaar gehou. “Dit was lekker tye, maar ons was by verre die jongste in die gemeenskap en die ouer mense het ons besig gehou,” lag sy.
Sy en Nick was die voorbokke wat musiekaande gereël het en almal georganiseer het vir bustoere om die bergpasse aan te durf.
“Ons het baie sports gehad en baie gelag. Maar jy weet, jou lewe is ‘n pad wat jy loop en na agt jaar het ek geweet ons moet terugkom Vaaldriehoek toe, my werk is nog nie klaar hier nie.”
Terug in Vanderbijlpark was Saneth vir ‘n tyd lank hoof van studentevoorligting by die NWU Vanderbijlpark kampus, alvorens sy die geleentheid gekry het om haar eie praktyk te begin.
“Ek het by dr. CP de Jager oorgeneem in 2017 en hier is ek nog altyd,” glimlag sy.
Saneth geniet dit om met mense te werk en om elkeen te help om hul eie antwoorde oor die swaar vrae van die lewe te ontdek.
“Gelukkig is Nick goed met die administrasie en finansiële sy van sake, want ek hou nie daarvan nie.
“Sonder hom en my regterhand by ontvangs, Sonja sou ek dit nie gemaak het nie.”
Wanneer sy nie pasiënte sien nie, kan Saneth ook gereeld oor een van die plaaslike radiostasies gehoor word waar sy oor alles en nog wat met betrekking tot geestelike welstand gesels.
Dan het sy ook ‘n groot voorliefde vir lees en Afrikaans lê haar na aan die hart. Saneth se oë skitter altyd van lewenslus en haar glimlag en lag is aansteeklik.
Al het sy ook al die donker kant van die lewe gesien en ervaar bly sy positief en glo sy daar is altyd ‘n uitweg. Van opgee is daar geen sprake nie.
Naas Nick, is daar ook ‘n ander groot liefde in haar lewe. ‘n Jack Russel-Pekinese kruising met die naam van Pixie.
“Ek het eendag oor die radio gehoor iemand wil die hondjie weggee en ek het haar gevat. Vandag is sy die koningin van die huis.
“Onlangs het ons ‘n ander hond opgepas vir ‘n paar dae en Pixie het haar omtrent gewip daaroor. Gewoond daaraan om al die aandag te kry, sien,” lag sy weer lekker.
Van weer aftree wil sy op die oomblik niks weet nie. “Ek dink die jare op Boknes het my voorberei vir hierdie seisoen in my lewe. Dis hier waar ek moet wees.”
Inderdaad Dok, jou vriende en pasiënte stem saam.
