Local newsNewsNews

‘n Wêreld waar feetjies tuis voel

Kunstig, kreatief en altyd op die uitkyk vir nuwe idees en uitdagings. Pamela Pieters leef haar passie vir kuns uit.

VANDERBIJLPARK. – Die rakke met kristalle, klippe en edelgesteentes val mens eerste op. Elke klippie het ‘n storie en Pamela Pieters ken elke soort by die naam.

Haar belangstelling in verskillende tipe kristalle, klip en edelgesteentes het sy by haar ma, Michelle Goddard gekry.

Hier is iets van alles, van ‘n klip uit die See van Galilea tot by interessante klippe gevul met metale van dwarsoor Suid-­Afrika.

Party het sy by haar ma gekry kort voordat haar ma drie jaar gelede oorlede is, party het sy gekoop, self opgetel of is deur vriende aangedra.

Dit lyk kompleet soos ‘n speelplek vir feetjies. Net verder in die gang af is haar kantoor en kunsstudio.

Pamela werk voltyds van die huis af, maar as sy die slag aan die anderkant van die tafel gaan sit, raak sy weg in haar eie kunswêreld.

“Ek het van kleintyd af geverf en geteken,” glimlag sy. Langs die pad het die kuns­vlyt-gogga haar behoorlik gebyt.

“Ek hou daarvan om op Pinterest nuwe idees te kry. So ‘n paar jaar gelede het ek gesien hoe mense die mooiste juweliersware van resin (harpuis) maak. Op daardie stadium het dit nog nie in Suid-Afrika posgevat nie en ek het my eie vormpies gemaak,” vertel sy.

Pamela se kunsrakke is ‘n kaleidoskoop van kleur met alles wat sy nodig het om haar kunsvlyt te doen. Foto: Gerda Bruinette

Haar kunstigheid is nie beperk tot juweliersware en sleutelhouers nie. Haar man het eendag met ‘n 3D-drukker by die huis aangekom.

Dit het ‘n nuwe kunswêreld vir haar oopgemaak. Vandag het sy vyf 3D-drukkers en almal is amper altyd aan die gang. Sy het klein begin, maar nou druk sy al poppe waarvan die ledemate kan beweeg.

Die kunsvlytkamer se rakke is netjies gepak met ‘n verskei­denheid verwe, bottels vol blinkers, ogies, wimpers, versierings, lint en nog vele meer.

‘n Mens verwag dat ‘n feetjie enige oomblik agter een van die blink botteltjies gaan uitloer en knipoog.

Op ‘n ander rak pryk van haar skeppings. Dit sluit alles van 3D-gedrukte ballerinas tot skadubokse met nagliggies in. Dan is daar natuurlik die teddiebere.

“My ma het my geleer om teddiebere te maak. Ons het dit altyd saam gedoen. Nadat sy oorlede is wou ek eers nie daarmee aangaan nie, maar toe besef ek sy sou wou hê dat ek dit steeds doen,” beduie Pamela.

Elke teddiebeer word met die hand gemaak en vasgewerk. Elkeen is uniek en besonders.

Op die een teddie se neus sit ‘n ronde brilletjie. “Dit het eers aan ‘n porseleinpop wat gebreek het behoort, maar ek glo mos nie daaraan om iets sommer net weg te gooi nie. Kyk net hoe mooi lyk dit nou op teddie se neus,” lag sy vrolik.

Pamela Pieters en Seun voor ‘n gedeelte van haar klip en kristal versameling. Foto: Gerda Bruinette

Haar groot droom is om haar eie geskenkwinkel te hê waar sy haar unieke kunswerke kan verkoop. Tans kan bestellings op haar Facebookblad, Hidden Treasures geplaas word.

“Ek geniet kuns en kunvlyt baie. Van die poppe tot by die teddiebere neem baie tyd in beslag. Ek kan vir ure sit en ‘n pop verf of blinkertjies een vir een aanbring.

“Dis lekker om iets uniek te skep, dit mooi te maak en dan terug te sit en te dink, sjoe, daar is dit nou en ek is trots daarop.”

Check Also
Close
Back to top button