Local newsNewsNews

Eerste SA’s vir Leroi groot sukses

Leroi het sy eerste SA's agter die rug en mik nou internasionaal.

VANDERBIJLPARK. – “Ek was ‘n bietjie oorweldig.” So vertel Leroi le Roux wat 19 Maart aan sy heel eerste South African Sports Association for the Physically Disabled (SASAPD) kampioenskappe deelgeneem het.

Gelukkig was die oomblik vir hom nie te groot nie. Nadat die gedagte ingesink het dat hy regtig as deelnemer op die Groenpunt-stadion in Kaapstad is, het hy koel en kalm meegeding.

Leroi le Roux het silwermedaljes vir diskus en gewigstoot by sy eerste Suid-Afrikaanse atletiekkampioenskappe vir persone met gestremdhede verower. Foto: verskaf

Leroi het in die F64 klas aan gewigstoot en diskus deelgeneem. In die diskus was hy verbaas toe die res van die deelnemers die een geen gooi na die ander gehad het.

“Konsekwentheid en geduld is vir my baie belangrik.” Sy strategie het goed gewerk en hy het met 36,26 m, nie net sy eie persoonlike beste met 2 m verbeter nie, maar ook ‘n silwermedalje verower.

Die uitmuntende gooi het hom ook ‘n algehele tweede plek besorg onder die atlete wat staande aan diskus by die SASAPD deelgeneem het.

In die gewigstoot het hy ook baie goed gevaar en sy 9,88 m het daar vir hom ‘n tweede plek in sy klas besorg en ‘n algehele vierde plek onder die atlete wat staande gooi.

“Ek het dit baie geniet. Dit is regtig lekker om weer aan atletiek te kan deelneem.

“Gelukkig het ek nog by elke byeenkoms heelwat vriende en familie gehad wat my ondersteun het.

“Ek is dalk die een wat op die atletiekveld stap, maar dit verg ‘n hele span om my daar te kry,” vertel Leroi.

“Ek kan net dankie sê vir elkeen se hulp en my vrou, ouers, familie en vriende se ondersteuning,” glimlag hy breed.

Leroi se been is in Mei verlede jaar geamputeer. Einde 2022 het hy besluit om weer diskus te probeer en het begin oefen.

In Januarie het hy almal verras toe hy vir die SASAPD gekwalifiseer het. Intussen word sy afstande al hoe langer en hoop hy om eersdaags die driekwartdraai en later die voldraai in die diskussirkel te bemeester.

Einde Mei gaan Leroi sy internasionale klassifikasie in Switserland kry, waarna hy aan ‘n internasionale kompetisie gaan deelneem.

Hy hoop om dan vir die wêreldkampioenskappe wat in Julie in Frankryk plaasvind, te kwalifiseer.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button