Local newsNewsNews

Ek sê maar net…

RUBRIEK. - Oor onverstaanbare woordsomme, winde van verandering en my nuwe werk - wel soortvan.

RUBRIEK. – Woordsomme. Was een van die vele dinge wat my hoofbrekens op skool gegee het. Eintlik wiskunde in enige vorm of styl.

Maak nie saak of hulle dit algebra, trigometrie of ­meetkunde genoem het nie, my aandag was nooit volledig daar nie.

Wanneer alles tegelyk verander voel dit nes ‘n woordsom en dan lyk ek so…

Was al erg genoeg mens x se waarde moes bepaal en uit ‘n magdom strepe hoeke vind, maar wanneer dit in woorde omgesit is, dan was ek sommer vies.

Dit begin dan soos ‘n storie en ek hou van stories, maar dan kom hul met die simpelste vrae.

As Pietie ses lemoene het en 13 maatjies, hoeveel stukkies sal elkeen kry as die kombuismes weg is en drie van die lemoene vrot is? Of so iets.

Was dankbaar toe ek uiteindelik matriek agter die blad het en daar nie ‘n beduiding van enige somme van enige aard in my universiteitsvakke opduik nie. Ek het persoonlik seker gemaak van daardie ene.

Helaas, soms gooi die lewe ‘n woordsom na jou kant toe. Gewoonlik wanneer jy dit die minste verwag. Onlangs het ek my in ‘n grote vasgeloop.

Vaalweekblad is Woensdae op die rak, dus is saktyd en proefleesdag Dinsdae.

Die algemene SMS’e moet ek op Donderdae doen en vir die subredakteur deurstuur.

Ek trek die SMS’e van die stelsel af wat van die vorige Donderdagoggend tot die volgende Woensdagnag gestuur is.

So het ek geleer en so doen ek dit al vir drie jaar en drie maande.

Nee, wag nou jok ek vreeslik. Seker net drie jaar.

Daar aan die begin van my werksaamhede by die koerant het kollega Christiaan dit nog gedoen. Toe erf ek dit, maar dis geheel ‘n ander storie.

Die afgelope drie jaar en drie maande het ek in ‘n gemaklike ritme en roetine ingeval.

Skarrel deur die week om onderhoude te reël en te voer, probeer om Saterdae so min of meer, plus minus, ongeveer vir myself te hê en Sondae word die laptop nader gehark vir skryf.

Maandae val ek dou voor dag uit die bed om al die ongeskrewe artikels vir die uitgawe op die stelsel te kry.

Dinsdae sak ek kantoor toe om saam met Elsje te sien hoe die Vaalweekblad vorm aanneem en die leë bladsye een vir een gefoto en gestorie word.

Dit was nou voor ek my teen die woordsom van epidermiese proporsies vasgeloop het.

Vanaf die tweede week in April sal Vaalweekblad nie meer op Woensdae nie, maar wel op Vrydae te koop wees.

Dit het my onkant gevang en die woordsom het sommer vanself in my gedagtes gespring.

As die koerant op ‘n Vrydag versprei word, moet die uitleg op ‘n Donderdag geskied, wanneer moet jou stories dan finaal op die stelsel wees?

Van watter dag tot watter dag moet die SMS’e getrek word? En die groot vraag, wanneer gaan ek nou my stories skryf?

Ek dink die antwoord is blou of groen of dalk twaalf.

So sit ek Sondagaand weer soos ‘n stout skoolkind wat huiswerk vir laaste los en artikels skryf, en ek besef dis die laaste keer…

Volgende week is die nuwe spertye van toepassing. Ons gaan Donderdae op die kantoor toesak en ek probeer nog uitvind wanneer ek die SMS’e sal moet doen.

Ek vermoed die antwoord is Maandag, maar ek gaan nie my kop ‘n blok sit daarvoor nie.

Drie jaar en drie maande en nou verander alles. Die Ingelse sê “change is as good as a holiday.” Is seker ‘n goeie ding, hou mens op jou tone.

Hoeka het ek die week ‘n nuwe werk begin.

As joernalis. By die Vaalweekblad. Is! Ek het die papiere en alles.

Sedert 2020 was ek net op kontrak en nou is ek permanent en dis ‘n verandering amper so goed soos ‘n vakansie!

Ek moet nou net nie deurmekaar raak met April se nuwe sperdatums, saktye, publikasiedatums en al die openbare vakansiedae nie.

Soos ek myself ken sal ek tien teen een Maandag voor ‘n toe kantoordeur gaan wag en teen Dinsdag dink dis Donderdag.

Solank ek net nie hoef somme te doen nie. Sela!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button