Local newsNews

Ouma in hospitaal na botsing teen bees

Volgens haar seun, Stefan, moet sy dringend 'n operasie aan haar been en arm ondergaan, maar weens probleme met die lugversorging in die hospitaal se teaters, sal daar nie gou geopereer kan word nie.

 

‘n 62-jarige ma en ouma van Vanderbijlpark, mev. Tina Esterhuizen, lê met ‘n gebreekte been en arm in die Sebokeng-hospitaal nadat sy op 31 Maart in ‘n ongeluk op die Barragepad naby Alex Roadhouse beseer is.
Mev. Esterhuizen was die middag omstreeks 12:10 met haar 125cc motorfiets van Vaal Mall af op pad na haar woning op ‘n hoewe aan die oostekant van Vanderbijlpark, toe ‘n losloper-bees oorkant Alex Roadhouse skielik voor haar ingehardloop het.
Mev. Esterhuizen is na die ongeluk na die Sebokeng-hospitaal vervoer, waar vasgestel is dat haar linkerbeen net bokant die knie en net onder die heuppotjie gebreek is. Haar linkerarm is ook op twee plekke net bokant die pols gebreek.

Volgens haar seun, Stefan, moet sy dringend ‘n operasie aan haar been en arm ondergaan, maar weens probleme met die lugversorging in die hospitaal se teaters sal daar nie gou geopereer kan word nie. Sy verduur baie pyn en haar familie probeer nou uitvind of daar ‘n ander staatshospitaal is waar sy vinniger geopereer kan word.
“Ek wens die mense wat hulle beeste so alleen en sonder toesig op die Barragepad en ander hoofroetes laat loop, word beboet. Ek hoop die eienaar voel skuldig daaroor en dat sy gewete hom goed sal pla,” sê Stefan.

Mense wat graag ‘n bydrae wil maak sodat mev. Esterhuizen na ‘n ander hospitaal toe oorgeplaas kan word, kan ‘n EFT-skenking inbetaal by S. Esterhuizen, Nedbank, Spaarrekening 1229706577, Verwysing: Ongeluk.
* Vaalweekblad wens mev. Esterhuizen baie sterkte en spoedige beterskap toe.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button