Barend word vandag geopereer; Pa Tolla se toestand steeds ernstig
Mev. Tinkie Botes bedank almal wat hulle tot dusver deur hul beproewing onderskraag het.

OPDATERING: Mev. Tinkie Botes, vrou van mnr. Tolla Botes en ma van Barend Botes wat op 11 Februarie ernstig in ‘n fratsbotsing in Vanderbijlpark beseer is, bedank graag al Vaalweekblad se lesers vir hul gebede en ondersteuning. Danksy geldelike skenkings wat ontvang is, kan Barend vandag – presies 2 maande na die ongeluk – geopereer word. Vaalweekblad sal ons lesers deur die loop van die week op hoogte hou van Barend se vordering.
Dit gaan steeds nie goed met Pa Tolla nie. Hy is nog in die waakeenheid op ‘n ventilator maar word bedags al vir tye in ‘n stoel geplaas om regop te kan sit. Hy het so twee weke gelede septisemie in sy een arm opgedoen en twee van sy vingers moes geamputeer word. Hy het ook sy een oog verloor.
* Vaalweekblad wens Tolla en Barend baie voorspoed toe op hul pad na herstel.
LEES DIE EERSTE BERIG WAT OP 22 MAART 2023 IN VAALWEEKBLAD VERSKYN HET, HIER ONDER:
VANDERBIJLPARK. – Saterdag, 11 Februarie, het douvoordag as ‘n goedbeplande oggend vir Tolla Botes en sy gesin van Vanderbijlpark begin. Min het hulle geweet dat al die gesinslede kort daarna met ernstige beserings in die hospitaal sou wees weens ‘n fratsbotsing by die sirkel in Langenhovenstraat en Curie-boulevard.
Tolla, sy vrou Tinkie en hul kinders, Barend (23) en Johanné (12) het die oggend omstreeks 05:30 by die sirkel gestop om Barend af te laai, waar hy vir sy saamryklub sou wag om na sy werk by Slash Stone vervoer te word. Terwyl hul kar nog stilgestaan en Barend sy familie aan die passasierskant gegroet het, het ‘n ander voertuig skielik oor die sirkel gebars en teen die bestuursderskant van die Botes-gesin se motor gebots.
Barend is met impak grond toe geslinger. Sy skouer is ontwrig en sy bo-arm sleg gebreek. Johanné, wat op die agtersitplek gesit het, was ses ure lank bewusteloos weens ‘n kopbesering en ma Tinkie, wat op die voorste passasiersitplek was, se skouer is gebreek. Pa Tolla, wat bestuur het, het verskeie inwendige sowel as uitwendige beserings opgedoen. Die gesinslede is met verskillende ambulanse na die Sebokeng-hospitaal vervoer en Tolla is later die dag per noodhelikopter na Netcare Alberton gevlieg, waar hy steeds in die waakeenheid behandel word.
Hoewel sy toestand stabiel is, is hy steeds kritiek. Ribbebene aan albei kante van sy borskas is gebreek en sy longe is erg beseer. Boonop gaan hy moontlik ‘n oog en twee van sy vingers verloor. Hy is steeds in ‘n geïnduseerde koma maar sal na verwagting hierdie week stelselmatig bygebring word.
Danksy geldelike hulp van haar werkgewer, Lord Signature Hotel in Risiville, kon Tinkie ‘n noodsaaklike operasie aan haar skouer by Cormed-hospitaal ondergaan. Sy en Johanné is reeds ontslaan. Tinkie is egter baie bekommerd oor hul seun Barend, wat ‘n dringende operasie aan sy gebreekte arm en ontwrigte skouer moet kry. Hy is steeds in Sebokeng-hospitaal maar die waglys vir operasies is baie lank. Tinkie hoop om hom na ‘n privaathospitaal te kan laat oorplaas vir die operasie, wat sowat R60 000 sal kos.
Barend was vir vier maande werkloos voordat hy ‘n week voor die ongeluk by Slash Stone begin werk het, en het nie ‘n mediese fonds nie.
Tinkie het intussen ‘n Back-a-Buddy-fonds vir hom geopen, maar skenkings kom baie stadig in. Mense wat graag ‘n bydrae wil maak sodat hy vinniger geopereer kan word, kan sy Back-a-Buddy-blad besoek by https://www.backabuddy.co.za/barend-botes-5541055950211027895, of ‘n direkte EFT-inbetaling maak aan Tinkie Botes, Capitec, Takkode: 470010, Spaarrekening: 1768649152.




Die Botes-gesin se voertuig na die ongeluk.

Barend Botes (23)
