Local newsNews

Berthom-personeel groet hul baas soos hy dit sou wou hê

"Mnr. Ralston het sy lewensreis met passie en 'n uitstekende diens aan almal wat berusting nodig gehad het, voltooi."

 

VANDERBIJLPARK. – Vriende en personeel van mnr. Thomas Frank Ralston (59) het op 30 Maart met seer harte van dié geliefde eienaar van Berthom Begrafnis Dienste afskeid geneem tydens sy gedenkdiens: ‘n Laaste eer aan ‘n man wat dwarsdeur sy lewe ‘n sterk steunpilaar vir honderde families was wanneer ‘n naasbestaande begrawe moes word.
Mnr. Ralston, ‘n jarelange inwoner van Vanderbijlpark, het op 21 Maart onverwags aan ‘n hartaanval beswyk. Hy en sy vriend en vennoot, mnr. Bertus Niemand, het Berthom Begrafnis Dienste se eerste tak in 2012 as mede-eienaars in Robert Broomstraat, Vanderbijlpark geopen. Mnr. Niemand is ongelukkig in November 2020 oorlede. Nadat die perseel in Oktober 2022 verkoop is, het die onderneming na Fairbanksstraat 22, NW7 verhuis, waar dit sedert Februarie vanjaar bedryf is.

Mense wat mnr. Ralston deur die jare ontmoet het, het hom leer ken as iemand met ‘n sagte hart en ‘n oop hand vir ander in nood. Hy het veral minderbevoorregte senior burgers tegemoet gekom wanneer hul lewensmaats te sterwe gekom het en hul geld skraps was. Hy was nie getroud nie en word net deur ‘n ouer broer, James, oorleef. Sy vriende en personeel was egter soos sy eie familie. Sy werk was vir hom ‘n roeping en sy toewyding en ondersteuning aan kliënte was legendaries – ‘n ingesteldheid wat hy ook sterk by sy personeel gekweek en bevorder het.
“Sy voëls en twee hondjies was alles in sy lewe,” sê mnr. Johnny Kleynhans, Berthom se begrafnisondernemer. Die troeteldiere word nou deur mnr. Barend Haupt, ‘n naby-vriend, versorg.

Dit was juis Barend, Johnny en die kollegas Roelf Smit en Nimmery se taak om hul geliefde baas en vriend ter ruste te lê – presies soos hy dit graag sou wou hê. Die diens is in die Doves-kapel deur ds. Daniël Grové van die Kerk van die Nasarener (El-Shammah-gemeente) gelei.
“Ons harte is swaar maar ons weet mnr. Ralston het sy lewensreis met passie en ‘n uitstekende diens aan almal wat berusting nodig gehad het, voltooi,” sê Johnny. Berthom Begrafnis Dienste word deur die personeel voortgesit.

* Mev. Zellandi Bruwer (33), dogter van wyle mnr. Niemand (mnr. Ralston se oorspronklike vennoot), sê mnr. Ralston was vir 20 jaar deel van haar lewe. “My twee dogtertjies Leanke (9) en Elmoré (6) het hom leer ken as Oupa Tommy. Hulle het hom die afgelope twee jaar baie gemis sedert my pa se dood en sal nou nog meer,” sê sy.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button