Local newsNewsNews

Omgeemens met ‘n aansteeklike lewenslus

Gerda Janssen is een van Eurekaskool se geliefde onderwyseresse. ‘n Bok vir sports wat haar passies met oorgawe uitleef.

VANDERBIJLPARK – Gerda beteken sterk spies. As daar nou een Gerda is wat die naam gestand doen, dan is dit Gerda Janssen.

Sy leef in baie pyn as gevolg van ‘n seldsame longsiekte, Lymphangioleiomyomatosis (LAM). Daar is tans slegs 13 persone in Suid-Afrika wat met LAM gediagnoseer is.

Medici probeer nog vasstel wat presies dit veroorsaak en alle behandeling is slegs simptomaties.

Gerda tydens Eurekskool se Seldsame Siektes dag wat onlangs by die skool gehou is

Gerda sê: “Die siekte veroorsaak selle wat in jou longe groei en die long dan al hoe kleiner maak en in my geval al na my lewer ook versprei het.

“Die medikasie wat ons gebruik is om eendag, as mens dit sou nodig hê, ‘n longoorplanting te kry.”

Gerda het in 2013 nadat sy gaan fietsry het, gevoel of sy ‘n kramp agter haar rug kry.

Sy het eers gedink dis ‘n spierspasma, maar haar ma het dadelik agtergekom dat sy baie vreemd asemhaal.

Haar pa het met haar ongevalle toe gejaag. “Ek het gevoel ek kry nie asem nie,” onthou sy.

By die hospitaal is daar vasgestel dat haar linker long platgeval het. Dit word ‘n spontane Pneumothoraks genoem.

Pynlike dae in die hospitaal het gevolg. Sy onthou nie veel van daardie tyd nie, behalwe dat haar suster bykans die heeltyd by haar was en dat haar ouers ook by haar bed gewaak het.

Tien jaar later het Gerda al gewoond geraak aan die pyn wat soms soos messteke in haar longe voel.

“Ek weet nie meer wat dit is om reg te kan asemhaal nie. Die medikasie het baie newe-effekte. Ek moes aanvaar dat ek nooit kinders sal kan hê nie.”

Vir Gerda, wat ‘n omgeehart vir kinders het, was dit ‘n groot skok om te verwerk.

Benny en Gerda Janssen

Sy laat haar egter nie deur die siekte onderkry nie. “Ek voer nie ‘n stryd teen die siekte nie. Dis iets waarmee ek leef en ek probeer bewusmaking daaroor skep, maar ek sit nie my lewe op ys nie,” sê sy met ‘n aansteeklike glimlag.

Gerda is bekend as die bok vir sports by Eurekaskool. Op spesiale dae, soos Loslitdag, gaan haar uitrustings verras en vermaak.

Sy is ook die een wat met hope geduld en baie liefde vir die graad drie hoësorg klasgee.

“Ek leef my passie uit. Vandat ek kan onthou wou ek by Eurekaskool werk,” vertel Gerda wat in Sasolburg grootgeword en skoolgegaan het.

In haar laat hoërskooljare het sy gereeld stranddiens gaan doen en na skool het sy haar vir drie jaar by die destydse Diensjaar vir Christus (DJC) aan­gesluit.

Na al haar DJC avonture het sy onderwys met, onder andere tegnologie en gebaretaal by die Universiteit van Bloemfontein gaan swot.

“Ek het die tegnologie geniet. My pa het my van kleinsaf geleer van motorenjins want ons familie het nog altyd ‘n passie vir Vintage Vollas gehad.”

Na universiteit het sy in Vanderbijlpark begin onderwys gee, maar deurlopend ekstra kursusse gedoen in Remediërende Onderwys.

Sy het ook ‘n kursus in inklusiewe onderwys aan die NWU Potchefstroomkampus voltooi.

Dit alles het haar voorberei om in 2020 by Eurekaskool te begin nadat sy onder meer by Parkridge Primary School onderwys gegee het.

Gerda se familie lê haar na aan die hart en daarom het sy ‘n tatoeëermerk met drie spiese met haar broer, suster en haar eie voorletters op haar pols.

Gerda tydens Eureskaskool se Loslitdag vieringe in 2022

“Dit herinner my die heeltyd om vir hulle te bid. My broer het kanker en vir hom het ek al die 94.7 fietswedren voltooi.”

Haar man, Benny is net so sportmal soos sy en die twee het al vele fietswedrenne ten bate van kankerbewusmaking platgetrap.

Benny is een van die Vaal se swemafrigters en vir die egpaar is elke jong swemmer soos hul eie.

Benny en Gerda het ontmoet nadat een van haar vriendinne hul in ‘n gym aanmekaar voorgestel het.

“Genade, ek was papnat gesweet met my hare wat in toutjies aan my gesig vasplak. Ek het regtig gedink hy sal eerder in my mooie vriendin belang­stel,” lag sy.

Kort daarna het hy haar geskakel, maar sy het nie geantwoord nie. “Dit was ‘n vreemde nommer en ek antwoord nie vreemde nommers nie.”

“Dit was totdat hy ‘n boodskap gestuur het: “Dis Benny, antwoord of ek bel jou nie weer nie!”

Die twee het saam gaan koffie drink en die res is geskiedenis. Gerda kyk verby haar pyn en pak steeds elke dag positief aan.

Noodsaaklike hospitaalbehandelings en toetse skeduleer sy vir skoolvakansies.

“Ek weier om in ‘n gat te gaan sit. Dit gaan my net sieker maak. Ek gaan aan met my lewe dag vir dag; soms goed, soms sleg.

“Met die Here aan my kant het ek nog nie gaan slaplê nie en kan ek nog mens wees,” vertel sy.

Sterk spies inderdaad, maar ook ‘n omgeemens met ‘n groot hart, positiewe gesindheid en skitter oë waaruit lewenslus straal.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button