‘Adjunkpresident Mashatile se besoek aan Emfuleni niks anders as magsvertoon’
Daar was al voorheen beloftes gemaak aan die gemeenskap waarvan daar niks gekom het nie.
Adjunkpresident Paul Mashatile se besoek gister (13 April 2023) aan die Emfuleni was ʼn blote magsvertoon aangesien weining van president Cyril Ramaphosa se beloftes oor dié gebied uitgevoer is.
So sê rdl. Gerda Senekal van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit in ‘n mediaverklaring.
“President Ramaphosa het met sy besoek aan Emfuleni in Augustus verlede jaar beloof dat slaggate herstel sal word, rioolprobleme opgelos gaan word en dienslewering verbeter sal word.
“Daarvan het feitlik niks gekom nie. Emfuleni steier inteendeel van een krisis na ʼn ander en dienslewering het byna tot stilstand gekom.
“Die rioolkrisis is steeds nie opgelos nie al is ʼn bedrag van R965 miljoen in 2020 bewillig om die Vaalrioolnetwerk te rehabiliteer. Slegs R265 miljoen van dié bedrag is bestee terwyl riool in Emfuleni se strate loop,” sê rdl. Senekal.
Sy voer verder aan dat die VF Plus nie oortuig is dat die adjunkpresident se besoek enige positiewe verandering in Emfuleni sal meebring nie en beskou sy besoek as blote stemwerwing in aanloop tot volgende jaar se algemene verkiesing.
“Die ANC het Emfuleni die afgrond in bestuur en beskik nie oor die politieke wil om die munisipaliteit suksesvol te bestuur tot voordeel van sy inwoners nie,” sluit sy af.
