Titans se swem sukses
Veels geluk aan die Vaal se jong swemmers met hul puik prestasies.
VANDERBIJLPARK. – Die Titans Aquatics swemklub ryg hierdie seisoen weer die medaljes en persoonlike beste tye in.
Dihandre Hartmann (14) het vanaf 21 tot 25 Maart aan die SA Nasionale Junior Swemkampioenskappe in Durban deelgeneem.

Hy het goud in die 400m en 1 500m vryslag losgeswem en silwer in die 800m vryslag behaal. Dan het hy ook twee bronsmedaljes in sy sak gesteek in die 200m vryslag en die 400m individuele wisselslag.
Met persoonlike beste tye in al sy items is Dihandre dan ook gekies om Oos-Gauteng te verteenwoordig by die Senior Nasionale kampioenskappe wat vanaf 12 tot 16 April in Gqeberha in die Oos-Kaap plaasvind.
Die Titans het ook aan die vlak 2 streekkampioenskappe deelgeneem wat 2 Maart in Pretoria gehou is.

Nathan Fouché (16) het geskitter en met vier goud en een silwer huis toe gekom.
Hy het goud verower vir die 200m individuele wisselslag, 200m vryslag, 100m rugslag en 100m vlinderslag. Sy silwermedalje het hy in die 200m rugslag verdien.
Sibusiso Mehlomokulu (14) het ook die vaandel hoog gehou in die swembad en met goud in die 200m individuele wisselslag en silwer in die 100m vryslag weggestap.
Therése van den Berg (12) het ‘n goud in die 100m vryslag en silwer in die 200m vryslag losgeswem.

Die ander Titans wat hul goed van hul taak gekwyt het tydens die streekkampioenskappe, is Evan de Milander (12), Zian de Milander (9), Dryden Knoetze (10), Troy Liebenburg (10), Dyne Mulder (13), CF Pretorius (15) en Ayden van Wyk (11).
Dan het Anri Wenhold ook goed gevaar by die SA Streekkampioenskappe wat van 31 Maart tot 3 April in Germiston plaasgevind het.
Sy het teen van Suid-Afrika se top klubswemmers meegeding, asook die nasionale swemspanne van Botswana, Mosambiek, Uganda, Tanzanië, Kameroen en Zimbabwe.
Die weersomstandighede was nie ideaal vir swem nie, maar ten spyte daarvan het Anri haar persoonlike beste tye in al haar items verbeter.
Sy het brons in die 50m vryslag verower met ‘n uitstekende persoonlike beste tyd van 29.45s.

In die 400m vryslag het sy onder groot druk, ‘n prag tweede plek behaal. Ander items waar sy in die finale geswem het was die 100m vryslag (4de), die 200m vryslag (5de), die 200m individuele wisselslag (5de) en die 50m rugslag (4de).
