Local newsNewsNews

Ek sê maar net…

RUBRIEK. - Mich raak steeks en ek spartel oor 'n langnaweek om 'n battery te laat vervang.

RUBRIEK. – Natuurlik sal my liewe motor, die Yankee Mich, besluit om oor ‘n langnaweek steeks te raak.

Seker omdat ek die arme ding so lanklaas laat was het. Dis regtig op my te doen lysie.

Allegeval, ek en Ma besluit om op die derde dag van die Paasnaweek gou winkel toe te ry. Nie ver nie. Maksimum 2 kilometer.

Ons koop wat gekoop moet word en gaan klim vrolik in die motor. Toe ek die aansitter draai, toe skop Mich viervoet vas en klik, klik net sy tong vir my.

Alweer! Dit was die derde keer in ‘n paar maande en die eerste keer het ek al gesê ek sal ‘n ander battery moet koop.

Maar ja, dit was ook op my lysie van dinge wat gedoen moet word. Redelik laag af op die lysie, want battery koop is nie goedkoop nie.

Daar sit ons in die parkade. Ma sê sy dink ek trap die koppelaar nie diep genoeg in nie en ek draai nie die sleutel reg nie.

Ek stry nie eers nie. “Wil Ma probeer?” vra ek en klim uit.

Ma skuif agter die stuurwiel in, maar haar beter trap en regdraai werk toe ook nie. Mich het geen maniere nie en klik, klik ook net vir haar.

“Ek sal moet bel,” seg ek en druk die eerste knoppie om by Liewe Vriend uit te kom. Hy antwoord nie.

Vind toe eers later uit hy was reeds uit op ‘n onbeplande reddingsmissie saam met sy stiefpa en nie naby sy foon nie.

Ma begin die bure se name opnoem. Ek probeer, maar die een het gaan kuier en die ander se foon is af.

Eindelaas, bel ek vir Boeta wat doer onder in SE3 woon. Nie regtig my broer nie, maar ek is al so lank vriende met hom en sy vrou, hulle klassifiseer as familie.

Hy gee my nie eens kans om klaar te verduidelik nie. Sê net, “ek is nou daar,” en ek dink toe was hy al halfpad by die deur uit.

Gelukkig bly die parkeerspasie langs ons oop en minute later stop hy langs ons.

Met die uitklimslag kom die vraag wat ek gevrees het, “het jy nou al die battery vervang?”

Hy het al na die eerste stuiptrekkings my gewaarsku dat ek moet plan maak.

“Nee, maar ek gaan. Belowe,” beduie ek en duik onder die stuurwiel in om die enjinkap oop te maak.

Die keer het ek darem geweet waar dit sit. Nou die ander dag het Mich ook so vasgeskop en toe moes Liewe Vriend my kom red.

Op daardie dag het ek geheel aan die verkeerde kant van die paneelbord (kyk tog my mooi Afrikaans vir dash board) ingeduik en die verkeerde hefboom getrek.

Amper arme Mich se hele rekenaarboks laat uitval! Gelukkig het Liewe Vriend gesien wat ek doen en die saak beredder.

Sondag onthou ek darem waar sit die hefboom en die enjinkap spring oop. Boeta het intussen sy ‘jumper-kabels’ uit.

“Die kabels is te kort,” sug hy en gee summier die kabels vir my om vas te hou.

Gelukkig stop ‘n man en vrou net oorkant ons. Hy sien sommer op ‘n afstand die probleem.

“Kabel te kort? Wag ek kry myne, ons hak hul aanmekaar vas,” sê hy en gee sy pastei vir sy vrou aan.

Minder as ‘n minuut later toe ref Mich weer, ons bedank almal teenswoordig en Boeta gee opdrag dat ek eers Sasolburg toe moet ry om seker te maak die battery laai.

Volgende oggend is weer ‘n vakansie­dag, maar ek is vroeg al op Oom Google se spoor om te kyk waar is daar enigsins batteryplekke oop.

Die eerste een vra my so ewe watse grootte battery is dit? Heigend hert en genadendal, hoe moet ek weet?

Ek het naderhand die handleiding onder oë, maar die battery se grootte ontwyk my geheel en al.

Eindelaas kry ek ‘n oop sentrum opgespoor wat so gaaf is om vir my die regte grootte van die battery op te kyk.

Die prys wat sy gee, slaan amper my asem weg. Weet sy nie joernaliste kry eers die 25ste salaris nie?

Gelukkig kry ek toe wraggies op die goeie vakansiedag nog ‘n batteryplek oop.

Vriendelike jongman wat Mich vinnig-vinnig ‘n hartoorplanting gee. “Ek het vir my baas gesê ek sal vandag kom werk, ‘n mens weet nooit wanneer is iemand in nood nie,” glimlag hy.

Mich gallop weer soos ‘n jong hings en ek is al my redders baie dankbaar.

Gewas? Nee, ek het nog nie my arme Yankee laat was nie. Ek gaan nog, dis op my te doen lysie. Sela!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button