As kind was ek versot daarop om met klei te speel. Soutklei, gewone klei of strokiesklei het nie werklik saak gemaak nie.
Die enigste ding wat my meer plesier verskaf het, is dagha. Tot vandag toe is daar geen lekkerder reuk vir my as sement nie. Moenie geskok wees as jy my met my neus teen ‘n vars gepleisterde muur sien staan nie.
Ek hoort nie in groendakkies nie. Ek hou net van die reuk. Dit is juis hierdie liefde vir dagha wat my agterstewe verskeie kere lekker laat brand het.
Toe my ouerhuis gebou is, het ek dagha orals versteek. In my hempsak, my broeksakke, selfs in my kouse.
Ek het tot dagha-skoene met houtplankies gemaak.
Modder was ook onder my top drie gunstelinge. Veral as jy met ‘n tweewiel-, driewiel- of vierwielaangedrewe vervoermiddel om draaie gegly het.
Dit is juis hierdie liefde vir spoed en gly wat my soveel kere in die moeilikheid laat beland het. Vir my gideonsbende van volgelinge sal weet dat ek al voorheen ‘n stel of twee op die gholfbaan afgetrap het.
As ek nie ander mense se gholfkarretjies per ongeluk gaps nie, ry ek om die bos waar ‘n speler staan en water afslaan.
Al wat ek kan sê is, dit is bietjie ‘n ongemaklike storie.
So bevind ek myself weer vroeër vandeesmaand op Heron Banks Gholfbaan.
Dis die Sonskyntoer Mediclinic Uitnodigingtoernooi. Lekker man, lekker! Alles verloop seepglad tot op die laaste dag.
Na ‘n week se aan-en-af donderstorms is die laaste nege putjies van die gholfbaan lekker deurdrenk.
Die agterste paadjies is vol modder en soos wat ek later sou uitvind bedek met lekker kleigrond.
So besluit ek teen my beter oordeel om kortpad na die 18de putjie te vat. Dinge gaan goed solank ek die elektriese gholfkarretjie se lepel plattrap gly ek deur die modder soos ‘n Landrover Discovery.
Dis mos toe dat die seuntjie in my ontwaak en ek met die pedaal en stuurwiel begin speel om die karretjie sywaarts te laat gly.
Die spoedvermindering was nie die beste besluit om op kleigrond uit te voer nie. Soos enige nugtere denkende persoon kan voorspel was vassit my voorland.
Eers gee ek vet dat die wiele tol. My vrees dat ek die elektriese motor gaan uitbrand en Supersport se kameraman se aandag gaan trek het my laat besluit om uit te klim.
Nadat ek ‘n paar danspassies op die kleigrond uitgevoer het en amper soos ‘n gimnas gesplit het, slaan ek neer.
Gelukkig kon ek my gewig kant toe gooi… so die meeste van my liggaam het op die gras beland. My eerste instink was om te kyk wie my gesien het.
Ek kon ‘n sug van verligting slaak, maar opkom was ‘n komieklike proses. Na verskeie pogings om klippe en takke onder die wiele in te druk, het ek besef ek gaan ‘n rooksein vir Rob moet opstuur!
Na die vernederende oproep terwyl ek staan en wag vir ‘n plaasvervanger karretjie, wonder ek hoekom Rob se kortaf op die foon geklink het.
Miskien is hy net besig. Dit is eers toe ek in my “nuwe” ryding by die 17de putjie opdaag, dat ek besef wat die rede vir my kil ontvangs oor die foon was.
Tussen die nege en 10de putjie hang die Sonskyntier se bakkie van die bruggie af. Dit tref my toe soos ‘n nat snoek deur die gesig.
Dis die rede. Ek besef toe opnuut dat mens nie moet kla in die lewe nie, daar is altyd iemand wat slegter af is as jy.
