Akademikus, skrywer, navorser van formaat
Dewald Venter is al vir jare deel van die personeelkorps van die VUT. Hy het ‘n passie vir militêre erfenis toerisme en natuurlik toerismebestuur.
VANDERBIJLPARK. – Dit het alles begin toe Dewald Venter as ‘n kleuter van vier op ‘n Casspir kon klim.
Die grote pantservoertuig het hom gefassineer en ‘n groot indruk op hom gelaat.
Dit, saam met sy Oupa wat gereeld vir hom stories oor die Anglo-Boereoorlog en die Tweede Wêreldoorlog vertel het, het by hom ‘n liefde en belangstelling vir geskiedenis gekweek.

Vandag word Dewald as een van die mees breedvoerigste akademiese skrywers oor militêre erfenis toerisme beskou.
Sy belangstelling in pantservoertuie het oor die jare net toegeneem en hy is al vir ‘n geruime tyd betrokke by die Pantser Museum in Bloemfontein.
As senior dosent in Toerismebestuur by die VUT fokus sy navorsing op militêre vegkuns toerisme uit ‘n invalshoek van positiewe sielkunde.
Dewald is by uitstek ‘n akademikus, navorser, skrywer en kenner op sy gebied. Die gebore en getoë Vanderbijlparker het sy skoolloopbaan aan die Laerskool Parksig begin en aan die Hoërskool Driehoek gematrikuleer.
Daarna het Dewald sy studies aan die VUT begin in Toerismebestuur. Sistematies en doelgerig het hy die een kwalifikasie na die ander bekom.
In 2017 het hy sy PhD by die NWU behaal. “My tesis het daarop gefokus om ‘n raamwerk te skep vir avontuursport met die fokus op gevegsporte,” vertel hy.
Onlangs is die titel assosiaat professor ook aan hom toegeken nadat hy op verskeie areas in sy spesialiteitsveld uitgeblink het.
Dewald is voortdurend besig met navorsing en het al verskeie akademiese artikels geskryf en gepubliseer.
In 2020 is ‘n jarelange droom van hom verwesenlik toe sy eerste boek, South African Armoured Vehicles: A history of innovation and excellence gepubliseer is.
In sy agterkop broei daar nog heelwat navorsingsidees en selfs ‘n boek of twee. Dit is duidelik dat hy ‘n passie vir militêre erfenis het.

Naas sy eie navorsing, het hy ook ‘n uitgebreide boekversameling en ‘n groot versameling van modelweergawes van militêre voertuie.
Wanneer hy nie doenig is met navorsing nie, geniet hy dit om sy lyf vryskutjoernalis te hou en beoefen hy ook fotografie as ‘n stokperdjie.
Dewald is getroud met Carina en die egpaar het een dogter, Ciska (11). Dan is daar ook die twee Great Danes wat hom na aan die hart lê.
Kry die gesin die slag ‘n kans om weg te breek, verkies hul natuurvakansies in die Drakensberge.
Dewald geniet dit om te reis en het al Sjina, Mauritius en Eswatini besoek.
“Moenie twyfel in wie jy is nie. Jy skryf jou eie toekoms. Streef na uitmuntenheid en werk hard.
“Vind eers uit wie jy is en waarvoor jy aangelê is, waar die twee areas oorvleuel, sal jy die rigting vind waarin jou toekoms lê,” is sy wyse raad aan jongmense.
