Goeiehoek-kontreimark: Kom geniet Werkersdag op die plaas! 1 Mei…
"Ons sien baie daarna uit om die hele Vaaldriehoek op 1 Mei by ons te verwelkom," nooi Annatjie du Toit en haar medewerkers.
Wat kan nou beter wees as om ‘n lekker langnaweek af te sluit met ‘n lekker kuier op ‘n regte plaas? Dit is wat op Werkersdag, 1 Mei, op besoekers wag as hulle die volgende Goeiehoek-kontreimark op die plaas Bosrand in Midvaal gaan bywoon.
Die organiseerders nooi al hul getroue ondersteuners en nuwe besoekers om Maandag, 1 Mei, hul flukse, kreatiewe uitstallers in groot getalle te kom ondersteun. Daar sal weer eens iets wees wat elke lid van die gesin se smaak en behoeftes gaan pas.
Die teetuin is onder ‘n nuwe bestuur en beloof ‘n gastronomiese ervaring aan elke besoeker.
Getrou aan die Goeiehoek-kontreimark se leuse, gaan daar uitgereik word na twee verdienstelike kinderhuise in hul direkte omgewing: Galaxy Children’s Village en Lerato Kinderhuis.
‘n Vrywillige ingangsfooi ten bate van die kinderhuise sal verwelkom word. Kaartjies vir ‘n handgemaakte biltongkerwer en ‘n pragtige braaiplank wat uitgeloot gaan word ten bate van Galaxy, sal ook by die mark verkoop word.
Lerato Kinderhuis gaan speletjies en pryse, wat met die draai van ‘n gelukswiel gewen kan word aan, aanbied. Die geld wat sodoende bymekaar gemaak word, sal gebruik word om hul jong inwonertjies op ‘n seevakansie te neem.
Kinderklere in ‘n goeie, bruikbare toestand sal ook baie welkom wees.
Vir die manne wag daar ‘n verrassing in die vorm van ‘n uitstalling van outentieke motors deur ‘n klompie geesdriftiges in wie se are die petrol en diesel dik vloei!
“Ons sien baie daarna uit om die hele Vaaldriehoek op 1 Mei by ons te verwelkom,” nooi Annatjie du Toit en haar medewerkers. Kontak Annatjie by 083 541 9908 met enige navrae oor die mark.
* Roeteaanwysings: Die Goeiehoek Kontreimark word op die plaas Bosrand in die Midvaalgebied gehou, sowat 12 kilometer vanaf 4Way Motors in Drie Riviere. Neem die R42-roete van Vereeniging na Heidelberg. Draai rigting Goeiehoek by die Meyerton/Goeiehoek-kruising. Na 4 kilometer vanaf die kruising, draai regs in die syaansluiting, rigting Goeiehoek. Bosrand is die eerste plaas op linkerhand ná die syaansluiting.

