Local newsNews

Plaaslike tiener ‘n finalis in gesogte Boertjie-wedstryd

Stem voor 7 Mei vir Derrick (kategorie 11 - 18 jaar) en verbeter sy kanse om te wen!

VANDERBIJLPARK. – Derrick Hugo (13) was nog in sy babadoeke toe hy al in ‘n veiligheidsitplek saam met sy oupa Derick Delport begin trekker ry en die fyner kunsies van boerdery begin bemeester het. Vandag is hy ‘n tiener wat lééf vir sy vee en boerdery.

“Sy liefde vir diere, grond en die natuur is onbeskryflik. Om te boer vloei absoluut deur sy are,” sê Derrick se ma, Erika Hugo.

Derrick is onlangs aangewys as een van Huisgenoot en Landbouweekblad se vyf nasionale finaliste in die Junior Boertjie van die Jaar-wedstryd in sy ouderdomsgroep (11 tot 18 jaar). Wanneer jy hom geesdriftig oor sy boerdery hoor praat, is dit duidelik waarom hy al klaar onder die room van Suid-Afrika se aspirant jongboere gereken word.

Derrick is op 4 Januarie 2010 as die jongste van twee broers gebore. Hy het van sy babadae af ‘n groot belangstelling in alle boerdery-aktiwiteite op sy ouers se grond in die Rosashof-omgewing buite Vanderbijlpark getoon. Om te boer is ál wat hy wil doen. “Die geluide van die diere… die reuk van die grond en varsgesnyde gras, dit is alles só lekker vir my,” sê hy.

In 2018, toe net 8 jaar oud, het Derrick sy eerste twee skape op ‘n vendusie gekoop. Vandag staan sy kudde al op 60. Hy is elke Saterdag by Hersa se veilings en het reeds sy eie geregistreerde brandmerk waarmee hy diere kan koop en verkoop. Met sy kennis van skape span ander boere hom ook gereeld in om namens hulle vee by vendusies te koop. Veilings is een van Derrick se gunstelingplekke om te wees – dis nou as hy nie op ‘n trekker in die lande is nie. Hy het ‘n hektaar grond van sy eie waar hy voergewasse aanplant en stroop as voeding vir sy vee.

Derrick is in graad 7 aan die Laerskool Eligwa in Vanderbijlpark, waar hy ook ‘n leier is. Soggens voor skool is hy vroeg uit die vere om sy skape te versorg, en saans gaan hy nie rus voor al sy verpligtinge teenoor sy diere nagekom is nie. As ’n lammertjie gebore word, is hy daar, selfs al moet Ma Erika hom vroeg by die skool gaan uitteken. Hy lees baie op oor intensiewe skaapboerdery en help ook op ander plase uit wanneer daar hulp nodig is met ooie wat lam.

Om ekstra geld te verdien, sny hy van die bure se gras met sy trekker, en as hy dit kan regkry om die R10 000 in die Junior Boertjie-wedstryd te wen, sal dié geld ook gebruik word om nog ooie te koop om sy boerdery te laat groei, sê Derrick.

Sy toekomsdroom is om eendag sy eie plaas te hê. “Ek wil ‘n sukses van my lewe as boer maak en ook vir ander mense kos produseer,” sê hy.

* Vaalweekbladlesers wat Derrick se kanse wil verbeter om die wedstryd te wen, kan voor 7 Mei by hierdie skakel vir hom gaan stem: https://www.netwerk24.com/huisgenoot/hg-junior/junior-boertjie-hiers-ons-top-10-aspirantboertjies-stem-nou-20230405

 

  • Foto’s met vergunning van Huisgenoot en Landbouweekblad

 

Derrick Hugo is net 13 jaar oud, maar as skaapboer staan hy reeds sy plek tussen die manne vol.

 

Derrick met twee van sy geliefde diere.

 

Derrick en sy hond, Boesman

 

 

 

 

Hy versorg sy kudde elke dag van vroegoggend af met groot sorg voordat hy skool toe gaan.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button