“Stel tydelike toilette beskikbaar aan straatsmouse, plakkers” vra gemeenskapsaktivis
Die groeiende aantal onwettige straatsmouse en plakkers in Drie Riviere lyk nie soos ‘n probleem wat gou gaan weggaan nie en dus kan die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit maar net sowel tydelike toilette aan hulle beskikbaar stel.
VEREENIGING. – Shayne Welman, ‘n inwoner van Wyk 1 van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit en gemeenskapsaktivis, meen die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit kan net sowel toilette aan onwettige gemeenskappe en straatsmouse beskikbaar stel.
In ’n brief wat Welman Dinsdag (18 April 2023) aan die uitvoerende burgemeester van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, rdl. Sipho Radebe, en die wyksraadslid vir Wyk 1, rdl. Dalene Venter, gerig het, skryf Welman:
“As besorgde burgers het ons opgemerk dat hierdie groepe nou al ‘n geruime tyd in ons wyk woon en werk, sonder enige behoorlike infrastruktuur of fasiliteite.
“Die onwettige gemeenskappe wat in Wyk 1 bestaan, is ‘n groeiende bron tot kommer. Hierdie gemeenskappe bestaan uit individue wat haweloos is en in groenstroke, onder brûe en naby munisipale infrastruktuur woon,” skryf Welman.

Welman skryf: “Om in sulke omstandighede te leef is uitdagend vir hierdie individue, aangesien hulle nie toegang het tot basiese dienste soos water, elektrisiteit of sanitasiegeriewe nie. Hulle word aan die elemente blootgestel en loop risiko’s van geweld en teistering in die gesig.
“Hierdie onwettige gemeenskappe het verskeie ander probleme in ons wyk geskep. Hulle teenwoordigheid in die groenstroke en openbare areas het byvoorbeeld ‘n openbare oorlas geskep, aangesien hulle dikwels rommel agterlaat wat die wyk ontsier. Hul teenwoordigheid verhoog ook die risiko van misdaad en ander onwettige aktiwiteite in die gebied.
“Maar my hoofbekommernis is die gesondheid en veiligheid van die gemeenskap. Weens die gebrek aan toiletgeriewe ontlas en urineer hierdie mense in velde. Daar bestaan kommer dat dit tot die verspreiding van siektes, vieslike reuke en besoedeling kan lei wat ons gemeenskap ‘n onhigiëniese plek sal maak om in te woon,” skryf Welman in die brief.



Welman vra dan dat tydelike toilette opgerig word sodat hierdie individue daarvan gebruik kan maak.
“Daarbenewens moet die onwettige gemeenskappe, klein straatverkopers en die taxi-liga verskuif word na ‘n meer geskikte plek wat die infrastruktuur en fasiliteite het om hulle te ondersteun.
“Ons verstaan dat dit ‘n sensitiewe kwessie is, en ons versoek nie dat hierdie individue onregverdig behandel word nie.
“Ons glo egter dat jy as burgemeester die mag het om positiewe verandering in ons gemeenskap te skep. Ons vertrou dat u ons bekommernisse ernstig sal opneem en sal werk aan ‘n oplossing wat almal betrokke sal bevoordeel,” sluit Welman af.

Inwoners van Drie Riviere sluk egter swaar aan Welman se voorstel.
“Nee, genugtig! Die hawelose community het nou al so uitgebrei en dit gebeur so onder ons neus nou…nog toilette. Waar gaan dit stop?” wou ‘n inwoner op ‘n plaaslike WhatsApp-groep weet.
“Om toilette te bring na ons area gaan net veroorsaak dat hul nog langer bly! Hierdie mense moet uit die area verwyder word!!!!” meen ‘n ander.

Dalene Venter, raadslid vir Drie Riviere, het by navraag gesê die beskikbaarstelling van toilette sal nie ‘n permanente oplossing vir die probleem bied nie.
Venter meen deur toilette beskikbaar te stel aan plakkers en straatsmouse gaan jy nog meer van hulle na die buurt lok.
Sy sê dit sal ook net ’n kwessie van tyd wees voordat die toilette gesteel word.
Venter het bygevoeg dat sy inwoners se frustrasie rondom plakkers en onwettige smouse verstaan, maar sê dat die probleme telkens aan die munisipaliteit se verskeie departemente deurgegee word en dat die probleme telkens aangespreek word.
Venter sê die by-wet-eenheid, gesondheidsdpartement, welsyn en stadsbeplanning werk saam om die situasies aan te spreek soos dit opduik en sê daar word gereeld met dié verskillende afdelings gekommunikeer oor inwoners se klagtes.

Volgens Venter is plakkers wat hulle tuisgemaak het in Vosloopark byvoorbeeld al op drie verskillende geleenthede verwyder.
Daar is blykbaar alternatiewe verblyf en dwelmrehabilitasie aangebied, maar ten spyte daarvan keer die persone keer op keer terug na dié gebied.
Tydens onlangse vloede moes plakkers wat in die park tuisgemaak het ook trek, maar hulle het op verskeie geleenthede na die park en ander gebiede langs die rivier teruggekeer.
Volgens Venter is dit ‘n realiteit dat dit sleg met die ekonomie gaan en dat hierdie mense nie HOP-huise het waar hul kan bly nie.



