Ek sê maar net…
RUBRIEK. - Joernaliste vang soms vreemde dinge aan, maar in ons eie oë is ons heel normaal.
RUBRIEK. – Verlede Vrydag bevind ek my by ‘n potjiekosdag. Eintlik was dit ‘n potjiekoskompetisie.
Ek was vroegoggend al daar om die nodige foto’s en inligting vir die artikel te kry, maar dan moes ek ook beoordelaar speel.
Ag ja, ek het self op my dag al baie potjies aanmekaargeslaan, maar beoordelaar die was ek nog nooit gewees nie.
Gelukkig was ek een van vier, want ek kom toe agter my hart is bietjie te sag en ek wou summier almal laat wen.
Die ander ding waaraan ek nie gedink het nie, is presies hoeveel potte geproe moes word voor ‘n wenner aangewys kon word.
Een van my medebeoordelaars sê ons was gelukkig, ons het net 10 potte gehad.
Op ‘n vorige keer was daar 21! Het almal nog dieselfde soort pot gehad, sou dit dalk makliker gegaan het. Maar toe is die verskeidenheid so groot.
Van potte met brandkos (en ek is hoeka nie een vir goed wat brand nie), tot by hoender, skaap en bees.

Teen die tyd wat ek by die huis gekom het, moes Ma vir my die nodige pille vir naarheid en maagpyn verskaf. Sy het gedink dis baie snaaks.
Dink volgende jaar is ek net joernalis vir die dag. Daardie gedeelte was baie prettig.
Die span van Greenwood Properties al die pad van Meyerton het hul behoorlik oor my ontferm. Na elke rondte om almal se potte te beloer en foto’s te neem, het ek eers daar gaan rus.
Dit was nou nadat ek ‘n naamgenoot onder die vrolike dames ontdek het. Toe kuier ons eers lekker!
Ek het naderhand een van hul hoede op die kop gehad en lekker gelag vir al hul kaskenades.
Hulle sê vir my hulle is altyd so aan die gang by die kantoor ook. Hul baas, die enigste haan onder die henne, het dit met ‘n swaar sug, maar met ‘n groot glimlag beaam.
In ons kantoor gaan dit oor die algemeen stil en rustig. Behalwe die dae wat ons die Vaalweekblad aanmekaarslaan, dan is daar meer mense op kantoor en die redaksielede raas bietjie.
Woensdagoggend kom ek in die kantoor in en gewaar kollega Christiaan op die vloer so end van my werkstasie af.
Ek dag eers my oë bedrieg my, want hy is gewoonlik in Drie Riviere doenig. “Wat maak jy hier?” vra ek en ignoreer die feit dat hy op die grond sit.
Ek meen joernaliste is maar vreemde wesens, ek is self een, so ek verstaan.
“Ons area se krag is af vir die dag, hul werk daaraan,” verduidelik hy. Tot my groot verbasing gaan lê hy plat op sy maag en seil onder die smal spasie by die werkstasie se laaie in.
Ek sit totaal verstom en staar na die gedoente. Blyk toe hy is doenig om sy laptop se kragkabel van onder deur die gate te ryg om uiteindelik te kan werk.
Toe die man eindelaas weer agteruitseil en regop kom, sê ek: “Jy weet dit sou baie makliker gegaan het by Elsje se werkstasie hier neffens my. Die muurprop sit aan die kant en veel hoër.”
Hy lag net en trek sy skouers op. Ons doen mos maar wat gedoen moet word om ons werk te doen.
Joernaliste se doen en late mag dalk vreemd voorkom vir baie mense, maar eintlik is ons heel normaal in ons eie oë. Is!
Selfs Levinia Heks ook bekend as Liewe Heksie sal dit beaam. Ek het net in die week ‘n telefoniese onderhoud met haar gehad en sy het gesê sy spel ook soms woorde verkeerd en sy verstaan van vergeet.
Sy is my sielsgenoot, want so is my sleutels, beursie en selfoon heeldag soek. Gelukkig sal ek self nooit wegraak nie, want êrens agter my lê daar gewoonlik ‘n pen of twee wat uit my kamerasak geval het. Sela!
