Vaalpark Primêr se top langasems
Vaalpark Primêr is trots op hul landloop atlete wat deurgedring het na die nasionale kampioenskappe.
VAALPARK – Hulle kom uit verskillende rigtings aangehardloop, soos ware landloop atlete betaam. Oë groot. Geen idee hoekom hulle skielik kantoor toe geroep is nie. Die glimlagte is van oor tot oor toe hulle hoor dis vir die koerant omdat hulle so goed vaar in landloop.
Die vyf juniors, vier is in graad drie en een in graad twee, het deurgedring na die nasionale landloopkampioenskappe. Die o9’s hardloop 2 km en die o8’s 1 km. Dis lekker en hulle bly fiks vir hul ander sport, vertel hulle met geesdrif.
Camton van Wyk sê hy doen al drie jaar landloop en hy wil eendag die vinnigste wees in Suid-Afrika. Hanro Coetsee geniet landloop, maar sy voorkeur sport is rugby. “Ek wil die beste rugbyspeler in die wêreld word, nes Pieter-Steph du Toit,” beduie hy.
Sy vriend, Sebastian Brits, verkies ook rugby, maar hy wil eerder soos Handré Pollard wees. “Ek speel tennis en krieket ook en ek doen atletiek. Landloop is lekker, veral as jy jou eie paadjie deur die bosse moet maak.”
Milan Loots het onlangs die baanrekord in Sasolburg gebreek. Sy het verlede jaar met landloop begin en is bly sy gaan deur na die nasionale kampioenskappe. Sy doen al wat ‘n sport is van netbal tot hokkie, maar sê tennis bly haar gunsteling.
Rumé le Roux is die enigste graad 2-leerling. Dis vir haar baie lekker om landloop te doen. Sy het ook verlede jaar daarmee begin. Die jonge dame geniet haar sport.
Hokkie bly egter vir haar die lekkerste, alhoewel sy netbal ook speel. “’n Mens kan met die bal dribble, in netbal moet mens stilstaan,” verduidelik sy haar keuse.
