Grasgroen bron van kommer op Vaalrivier
Verskeie inwoners het reeds die skokkende groen strook opgemerk wat dadelik rooi ligte laat flikker het.
VANDERBIJLPARK – ‘n Groot en ontstellende besoedelingstrook, wat vermoedelik die oorsaak van riool is, is tans duidelik op die Vaalrivier sigbaar.
Die grasgroen strook begin sowat 400 meter stroomop vanaf die Barrage en strek oor ‘n afstand van ongeveer 1,5 km.
“Daar is nog nie antwoorde oor die presiese samestelling van hierdie nuwe kopseer nie, maar die omvang daarvan vereis dringende ondersoek en ingryping deur die Departement van Water en Sanitasie én die betrokke owerhede,” sê die Emfuleni Belastingbetalersvereniging (ERPA).
ERPA benadruk dat die Vaalrivier ‘n kritiese waterhulpbron vir die hele gemeenskap is.
“Inwoners, besighede en ontspanningsgebruikers maak daagliks hiervan gebruik om te swem, ski, hengel en watersport te beoefen.
“Besoedeling op hierdie ooglopende skaal kan nie sommer net opgemerk, aangemeld en dan vergeet word nie.”
Die vereniging eis dat indien dit wel rioolbesoedeling is, die verantwoordelike partye sonder versuim geïdentifiseer en tot verantwoording geroep moet word.
“As dit iets anders is, moet die owerhede ons presies vertel wat dit is,” dring ERPA aan.


