Local news

Man dood, twee beseer ná gru-ongeluk op R59

Die R59 het nog ’n lewe geëis en vanoggend ’n spoor van wrakstukke, rook en chaos agtergelaat.

SASOLBURG – Een man is dood en twee ander mense is beseer in ’n gru-ongeluk tussen ’n motor en ’n vragmotor vanoggend op die R59 in Vaalpark.

Die tragedie het in die vroeë oggendure afgespeel toe ’n Ford Focus wat noordwaarts gery het, reg van voor met ’n swaar motorvoertuig wat suidwaarts gery het, gebots het.

Die vragmotor het onmiddellik ná die botsing aan die brand geslaan en ’n dik rookwolk die lug ingestuur terwyl nooddiensspanne na die toneel gehaas het om hulp te verleen.

Chaos op R59.

Verskeie wetstoepassingsgroepe het op die toneel opgedaag, met verkeersbeamptes van die plaaslike munisipaliteit wat die verkeer beheer het terwyl polisie-ondersoekers die wrakstukke deursoek het.

Toe Ster op die toneel aankom, moes motoriste deur swaar verkeer beweeg nadat nuuskierige motoriste stilgehou het om na die reddingsoperasie te kyk.

Brandweer- en reddingswerkers het die pad skoongemaak deur wrakstukke van die rybaan te verwyder en sand oor die teer te strooi, terwyl die beskadigde vragmotor steeds rook uitgeslaan het.

Die ongeluk het weer kommer oor veiligheid op die R59 laat ontstaan. Die pad was die afgelope tyd die toneel van verskeie ernstige ongelukke.

Polisie en verkeersbeamptes probeer die toneel opruim.

Net twee weke gelede het nog ’n tragiese ongeluk op dieselfde pad plaasgevind, terwyl ’n ander bestuurder twee maande gelede in ’n botsing met ’n vragmotor dood is.

Ondanks pogings om kommentaar van die betrokke owerhede te kry, het die plaaslike polisie teen publikasietyd nog nie gereageer nie, hoewel hulle onderneem het om ’n verklaring uit te reik.

Die omstandighede rondom die ongeluk word steeds ondersoek.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button