Local newsNewsNews

Ek sê maar net…

RUBRIEK. - Oor kinders wat lekker saamsing, 'n skoolhoof op 'n perd en 'n joernalis wat sukkel om foto's te neem omdat sy te veel lag.

RUBRIEK. – Beland ek op ‘n Maandagoggend by ‘n laerskool. Dis die hoof se verjaardag en hier word groot gegaan.

Laerskool Kollegepark se hoof is bekend daarvoor dat hy ‘n hart vir kinders het. “Hy kan baie kwaai wees as hy moet,” het een van die leerlinge my verlede jaar vertel, “maar hy is ‘n bok vir sports.”

Inderdaad, oor die afgelope drie jaar het ek die betrokke hoof nou al in narredrag gesien danspassies maak, op ‘n hobbelperdjie ry en wraggies ook op ‘n groot wit perd.

Alles doen hy met oorgawe vir die kinders. Val dit my later op toe die kroos van die pawiljoene afstroom hoeveel eers plan maak om by hom te stop om hom persoonlik geluk te wens en ‘n drukkie te kry.

Die heel ou kleintjies het omtrent aan hom gehang en die ogies wat opgekyk het was die ene bewondering.

Mnr. Coenie is hul held, dis nou maar wors, soos Trompie van Trompie en die Boksombende altyd gesê het.

Kan my nie indink dat ons eertydse laerskoolhoof op ‘n perd sou geklim het of saam met ons om die baan sou draf nie.

Hy was hierdie streng oom in die gryspak klere wat mens net soms gesien het. Ons het darem altyd botteltjies koeldrank op sy verjaardag gekry.

Daardie jare was die groot, rooi koeldrankfabriek altyd gereed om vir die laerskole op die hoofde se verjaardae te gaan koeldrank uitdeel.

Kan nie onthou dat ons enigsins ander klere op die dag aangehad het nie en of ons vir die hoof gesing het betwyfel ek ook sterk. Dalk het ons, dis ook nou al dekades gelede.

Kollegepark het vir hulle hoof gesing. Die juffrou het so mooi vooraf gesê, “ons gaan nou die liedjie sing wat ons altyd in die saal sing as iemand verjaar.”

Dink nie die heel ou kleintjies het nie die boodskap gekry nie, want toe die diensspan en die groteres wegtrek met een liedjie, toe trek die juniors los met geheel ‘n ander liedjie. Lag ek so, ek kry nie ‘n foto geneem nie.

Moet sê, ek het hoendervleis gekry toe die hele skool lostrek met “Stand up for the champions”. Bly maar mooi as so klomp kinderstemme uit volle bors saamsing.

Laat my nou dink aan die dag, vele somers gelede toe ek nog redakteur van die polisietydskrif was. Kry ons hier na die einde van die jaar ‘n blink gedagte om ‘n Kerspartytjie vir ‘n kleuterskool in Soweto te reël.

Ma brei ywerig teddiebeertjies en ons draai ons brigadier se arm vir die nodige fondse vir eetgoed. Ek het selfs een van ons afdeling se manne oortuig om Kersvader te speel.

Alles het goed gegaan, totdat daardie klomp kleuters, elkeen met ‘n gebreide beertjie onder die arm wegtrek en die landslied sing. Ek het so ewe reggestaan met my videokamera in die hand, maar toe is die oomblik vir my te groot.

Teen die tyd wat hulle by “Uit die blou van onse Hemel” gekom het, het ek so gehuil, die kamera het gebewe. Dit was regtig aandoenlik en met soveel oorgawe gesing.

Is mos sulke tye wat mens vir ‘n oomblik van al die verskille en geskille vergeet en net maar die oomblik waardeer.

Ek het dit lanklaas ervaar, maar ek het dit Maandag weer gesien in die ogies wat vol vertroue en heldeverering opkyk na ‘n skoolhoof wat tyd maak vir omgee en aandag gee.

Met die uitstap staan een van die graad R of was dit nou RR klassies onder die boom en wag om klaskamer toe te gaan.

Die juffrou wat my vergesel hek toe onderbreek skielik ons gesprek met, “oe, eina. Hy skiet op ons.”

Ek blik na links. Daar is ‘n klein kannetjie met ‘n speelgoedgeweer in die hand. Grrrr gaan die geweer af.

Vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde sien ek hy wonder wat die vreemde tannie nou gaan doen?

“Eina, jy het my” sê ek en gryp my skouer vas. Dadelik breek daar ‘n groot glimlag op die gesiggie uit, erkenning in die oë.

Hy besef, hier is ‘n grootmens wat verstaan van verbeelding en speel. Die skouertjies trek sommer meer regop. Hy stap met flinke treë klas toe, die glimlag steeds daar.

En ek dink, dit was net ‘n oomblik. Een sin en trek van my gesig. ‘n Stukkie saamspeel, maar dit het sy dag gemaak.

My niks gekos nie, maar my met ‘n glimlag terug werk toe laat ry. Wens ek kon dit meermale doen. Sela!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button