Kokaïen ter waarde van R167 miljoen op OR Tambo-lughawe onderskep
Die kokaïen is op ’n vlug uit Brasilië gevind.

JOHANNESBURG – Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) sê hy het Dinsdag meer as 333 kg kokaïen met ’n geraamde straatwaarde van R167 miljoen op die OR Tambo Internasionale Lughawe onderskep.
Die dwelms is tydens ’n geteikende operasie op ’n vlug uit São Paulo, Brasilië, gevind.
Doeanebeamptes het twee tasse met 75 blokke kokaïen van altesaam 83,1 kg ontdek toe hulle passasiers se bagasie in die internasionale aankomssaal deursoek het.
In ’n afsonderlike deurbraak het die SAID se snuffelhond, Lagertha, nog 250 kg kokaïen gevind in vier bokse wat nie op die vraglys verskyn het nie.
Die dwelms is aan die polisie oorhandig vir verdere ondersoek en forensiese verwerking.
SAID-kommissaris dr. Johnstone Makhubu sê die beslaglegging wys wat met behulp van intelligensie, risiko-ontleding en samewerking tussen wetstoepassingsagentskappe bereik kan word.
