Local newsNewsNews

Ek sê maar net…

RUBRIEK. - Oor 'n perd wat nie afgeneem wil word nie, boerbokke wat moeilikheid soek en astrante ganse - onder andere. Lekker lees.

RUBRIEK. – Nou die dag het ek ‘n onderhoud met ‘n perd. Luna. ‘n Mooi hings ook al 20 jaar oud.

Die dag was hy nie vreeslik lus om met my te gesels nie. Die praatwerk het hy vir sy eienaar of dan eerder mensma gelos, en vir my het hy net pronkerig stert geswaai dat ek hom kan afneem.

Maar sy einste ma reken ons sal beter foto’s aan die anderkant van die kleinhoewe daar by die rustige bankie en mooi bome kan neem.

“Dis ‘n entjie se stap, nie te ver nie,” verseker sy my en ons gesamentlike vriendin, Tersia. Wat sy nie dadelik vir ons vertel het nie, was dat daar net een pad is na daardie ideale fotoplekkie toe en dit is deur die kamp.

Die kamp waar die donkies wei, die skape lê en die boerbokke jou beloer. Maar eers moet mens verby die ganse kom.

Met die ganse in hierdie aftreeoord vir diere, want dis wat die plek eintlik is, pure diereparadys, kan mens nooit weet nie. Hul gemoed verander vinniger as die weer.

Van al die bejaarde diere op die kleinhoewe is die ganse by verre die humeurigste en ongeduldigste.

Loop almal bietjie mank, maar is nog net so rats op hul voete en geniepsig met die snawels soos toe hul nog pure dons en vere was.

“Waar is die ganse?” vra Tersia en ek maak seker een van die grootste honde is reg langs my om die nodige beskerming te bied.

Die ganse blyk die minste van ons probleme te wees. Deur die elektriese hek en Yvette waarsku dadelik.

“Julle twee beter jul treë rek, hierdie boerbokke is nie te vertrou nie.” Aan haar stemtoon kan ek hoor sy wil eintlik hê ons moet ‘n drafstap probeer, maar nou ken sy ook vir my en Tersia te goed.

Ons kan dalk in die hoogste versnelling praat en lag, maar ek sien eerder kans vir ‘n boerbok voordat ek my skroefenkel na draf probeer oorskakel.

Die twee moedswillige bokke beloer ons net so bietjie uit die hoogte, asof hulle dink ons klere is nou nie waardig genoeg om te hap nie.

Ek kul so bietjie en sorg dat ek die grote Luna regs van my het en die boerboel kruising links van my.

Ek begin net dink ons kan stadiger, die bokke kuier daar agter, toe praat Yvette weer. “Vinniger julle twee, die donkies!”

O jinne ja. Daar is drie donkies. Die goedaardige bruinetjie, Earl en die rustige gryse, Duke, maar dan is daar Fiona. Fiona se reputasie loop haar vooruit.

Sy is berug daarvoor dat sy sommer sal hap in plaas van groet. Ek en Fiona se paaie het al gekruis.

Sy het my nie gebyt nie, maar sy wou my afkeer dat ek nie kon uit nie. My so half vrywillig verplig om te kuier. Vir Fiona is ek lugtig.

Gelukkig was die donkie trio lekker lui in die laat herfs sonnetjie en ons bereik ons bestemming sonder enige happe of skeure.

“Gaan sit jy en Luna daar op die bankie-swaai,” terg ek vir Yvette, want daar is geen manier wat die halfton-perd op die swaai sal pas nie.

“Goeie idee,” besluit sy en gaan sit. Ek kyk haar ongelowig aan, maar sy hou net ‘n appel uit dat Luna kan nader staan om te eet.

Luna het die onverwagste stappie geniet, maar lus vir ‘n appel is hy nie en om te poseer vir foto’s nog minder.

Ek mik nog vir ‘n ander hoek, toe vlieg daai perd skielik om en draf vermakerig weg met sy hanteerder, Lennie agterna.

Met die fotosessie wat tot ‘n skielike einde gekom het, blik ek na regs en skrik myself amper koud vir die donkie wat so skielik langs my verskyn.

“Fiona,” kry ek uit. “Nee man, dis nie Fiona nie. Die een is vriendelik,” en die ou bruin donkie kry die appel wat Luna nie wou gehad het nie.

Met die terugloop raak ons bietjie te mak en Yvette moet ons weer aanjaag. Fiona is gelukkig nie te lus vir moeilikheid nie, maar staan wel baie nader om hallo te sê.

Tersia is nie so gelukkig met die boerbok nie. Dié bly lyk asof hy haar gaan storm en die twee jaag mekaar naderhand in ‘n sirkel met Tersia wat dreig om die bok met haar waterbottel nat te spuit.

Aan die anderkant staan Lennie en Luna en geniet die petalje ten volle. Ons maak dit darem heelluiks en onder groot gelag weer na veiligheid.

Is ook nie net donkies, ganse en perde wat gevaarlik kan raak nie. ‘n Paar dae later moet ek en Ma my 5 kg pekinese Kleinsus Antjie antibiotika ingee.

Ek hou vas, Ma bring die spuit nader. Alles gaan goed, totdat Ma die medisyne in Antjie se mond spuit.

Antjie het ‘n besondere lang tong en toe Ma spuit stoot sy haar tong vorentoe en stuur die medisyne in ‘n ander rigting.

Kolskoot in my oog! Daar was geen skade nie, maar die juffie het nie eens naastenby jammer gelyk oor sy my so mishandel nie. Sela!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button