VANDERBIJLPARK – Die Hoërskool Transvalia het sy wurggreep op Vaaldriehoek-skolegholf verder verstewig deur vanjaar sy 12de Vaaldriehoek-ligatitel in ’n ry te verower.
Dit is ’n merkwaardige rekord wat Transvalia se oorheersing van die plaaslike skolegholf beklemtoon.
Valia het in dié tydperk nie net 12 ligatitels ingepalm nie, maar was ook 13 keer ’n Noordvaal-finalis, terwyl die span twee Super 16-titels en drie naaswennersplekke behaal het. Transvalia se beste nasionale ranglysposisie was in 2022 toe die skool as die sewende beste gholfskool in Suid-Afrika gereken is.
Janko Vrey het vanjaar ook die individuele eer as die Vaaldriehoek se nommer 1-speler ingepalm. Hy het dié posisie beklink nadat hy ’n valbyl-uitspeelstryd teen een van die Hoërskool Dr. Malan van Meyertin se topspelers gewen het.
Vrey is een van vier Transvalia-spelers wat gekies is om die Vaaldriehoek by die SA Hoërskole toernooi te verteenwoordig. NF van Tonder, RW Koekemoer en Matteo Pollac is die ander drie spelers wat dié eer te beurt geval het.
Die vier spelers sal ook Transvalia se vaandel by die Noordvaal-finaal dra wat in September plaasvind.
