Oudlede van ROV groet vir oulaas ‘die koning’
Buiten dat Lourens Human 'n akademiese uitblinker was, was hy in sy jong dae ook 'n kranige sportman wat vir Vereeniging Kollege se eerstespanne hokkie en rugby gespeel het. Hy was in daardie jare ook kaptein van die sokkerspan.
VEREENIGING. – Oud-kolonel Lourens Human, voormalige bevelvoerder van Regiment Overvaal (ROV), is Saterdag 29 April in die ouderdom van 92 by sy huis oorlede nadat hy die voorafgaande dae van moegheid gekla het.
Menige oudlid van die Regiment, wat in 1997 ontbind is, sal kan getuig van Human se positiewe invloed op hul militêre en siviele loopbane.
“Hy was ‘n uiters besondere en begaafde mens; ‘n soldaat in murg en been. As bevelvoerder was hy baie streng en doelgerig. Alle militêre aktiwiteite onder sy bevel was altyd suksesvol en hy en die eenheid het die grootste lof daarvoor ontvang,” sê oudmajoor Pieter Myburgh, wat tot aan die einde hegte bande met Human behou het. “Lourens was my mentor, iemand vir wie ek die grootste respek gehad het. Ek het nie net ‘n baie goeie vriend verloor nie maar ook ‘n soulmate,” sê Myburgh.
Oudkommandant Saadjie Zelie, later self bevelvoerder van ROV, het ook tussen 1973 tot 1983 onder Human gedien – eers as kanonnier en later as adjudant-offisier. “Hy het sy vinger altyd op die pols gehou en presies geweet wat in die eenheid aan die gang was. As bevelvoerder was hy merkwaardig, veral as ‘n mens in ag neem dat met sy aanstelling as bevelvoerder in 1973, hy slegs 13 offisiere en 540 ander range tot sy beskikking gehad het en steeds daarin kon slaag om ROV na groot hoogtes te neem. Onder sy bevel is die Regiment in 1981 aangewys as die eerste Lugafweer Burgermag-eenheid in die land wat die gesogte Kanonniersbond-wisseltrofee ontvang het vir die mees ontwikkelde en gebalanseerde burgermag-eenheid in die land,” sê Zelie.
Manskappe van ROV was opgelei om in konvensionele oorlogvoering lugsteun aan ander weermageenhede te verleen en ook strategiese grondteikens met gesofistikeerde outomatiese grond-tot-lug afweerkanonne teen vyandige lugaanvalle te verdedig. Onder Human se bevel het ROV in 1976 sy eerste grensdiens as eenheid verrig. Met Human se dinamiese persoonlikheid, kiertsregop liggaamshouding en aandag aan die kleinste detail was dit nie ongewoon dat manskappe gedurende kampverpligtinge na hom as “die koning” verwys het nie.
Human is op 13 Julie 1930 in Harrismith gebore en het sy Nasionale Senior Sertifikaat in 1947 aan die Tegniese Kollege in Vereeniging geslaag. Buiten dat hy ‘n akademiese uitblinker was, was hy ook ‘n kranige sportman wat vir die kollege se eerstespanne hokkie en rugby gespeel het. Hy was ook kaptein van die sokkerspan.
In 1948 het hy sy vakleerlingskap in elektrisiteit by Vikor in Vanderbijlpark begin – dieselfde jaar waarin hy vir diensplig geloot is en by 1 LLA Regiment in Vereeniging moes aanmeld. Hy het deur die jare verskeie offisierskursusse gedoen voordat hy in 1973 as bevelvoerder van ROV aangestel is. Intussen het hy ook die graad B.Sc Elek.Ing. aan die Universiteit van die Witwatersrand geslaag en sy praktiese ingenieursopleiding in Swede deurloop, waarna sy omvattende siviele loopbaan in Suid-Afrika begin het. Hy het deur die jare verskeie seniorposte in die mynbedryf bekleë, navorsing in Amerika gedoen en was in 1989 onder andere by ‘n R1 biljoen-projek by Richards Bay Mineral in KwaZoeloe-Natal betrokke.
Human het in 1983 as bevelvoerder van ROV bedank en is daarna as S01 LA by 8 Pantserdivisie aangestel, waarna hy adjunk-korpsdirekteur Burgermag Lugafweer (BM LA) met die rang van kolonel geword het.
Hy word oorleef deur sy vrou, Gertha, ‘n seun, André Human, dogters Janice Fridjohn en Ronel Cordier, skoonkinders en hul gesinne. Die begrafnisdiens is verlede Vrydag by Ons Herberg Aftree-oord in Bronkhorstspruit gehou.



